DIE BYBEL VERANDER LEWENS
My lewe was buite beheer
Gebore: 1971
Geboorteland: Tonga
Geskiedenis: Dwelmmisbruik, tronk
MY VERLEDE
My familie is van Tonga, ’n land wat uit sowat 170 eilande bestaan en in die suidwestelike deel van die Stille Oseaan is. Ons het baie eenvoudig in Tonga gelewe. Ons het nie elektrisiteit of ’n kar gehad nie, maar ons het lopende water gehad. Ons het ook ’n paar hoenders gehad. Gedurende skoolvakansies het ek en my twee broers my pa gehelp om op die familieplaas te werk. Ons het piesangs, patat, taro en kassawe geplant. Deur dit te verkoop en ook los werkies te doen, het my pa ons gesin ondersteun. Soos baie mense wat op die eiland woon, het ons gesin groot respek vir die Bybel gehad. Ons het gereeld kerk toe gegaan. Maar ons het nog steeds geglo dat die enigste manier om ons lewe te verbeter, is om na ’n beter land te trek.
Toe ek 16 jaar oud was, het my oom gereël dat ons gesin na Kalifornië, VSA, moet trek. Die kultuur was baie anders, en daarom was dit ’n moeilike aanpassing vir ons. Al was ons finansieel beter af, het ons in ’n arm gebied gewoon waar erge misdaad en dwelms oral om ons was. Ons het baie keer geweerskote in die nag gehoor, en die meeste van ons bure was bang vir bendes. Baie mense het vuurwapens gedra om hulleself te beskerm of om argumente op te los. Ek het nog steeds ’n koeël in my bors as gevolg van so ’n argument.
Op hoërskool wou ek by die ander jongmense inpas. Ek het meer en meer na wilde partytjies gegaan, te veel gedrink, gewelddadig geraak en onwettige dwelms gebruik. Ek het later aan kokaïen verslaaf geraak. Ek het begin steel om dwelms te koop. Al was my familielede kerkmense, het niemand my ooit gehelp om op te staan teen groepsdruk om verkeerde dinge te doen nie. Ek is baie keer gearresteer omdat ek so gewelddadig was. My lewe was buite beheer! Ek het uiteindelik in die tronk beland.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET
Een dag in 1997, terwyl ek in die tronk was, het iemand anders in die tronk gesien dat ek ’n Bybel vashou. Dit was Kersfees, ’n tyd wat die meeste mense van Tonga as baie heilig beskou. Hy het my gevra of ek weet wat die Bybel regtig sê oor die geboorte van Christus, maar ek het glad nie geweet nie. Hy het vir my gewys hoe die Bybel Jesus se geboorte op ’n eenvoudige manier beskryf. Ek het gesien dat baie van die tradisies wat te doen het met Kersfees, nie eers genoem word nie (Matteus 2:1-12; Lukas 2:5-14). Ek was geskok, en ek het gewonder watter ander dinge ek nog in die Bybel kan leer. Die man het na die weeklikse vergaderinge gegaan wat Jehovah se Getuies in die tronk gehou het, en ek het besluit om saam met hom te gaan. Hulle was besig om die Bybelboek Openbaring te bespreek. Al het ek nie veel verstaan nie, het ek besef dat alles wat hulle leer, in die Bybel staan.
Toe die Getuies vir my ’n Bybelstudie aangebied het, het ek dit dadelik aanvaar. Vir die eerste keer het ek geleer oor die Bybel se belofte van ’n toekomstige paradys op die aarde (Jesaja 35:5-8). Ek kon duidelik sien dat ek groot veranderinge aan my lewe moes maak as ek God gelukkig wou maak. Ek het besef dat Jehovah God nie enige van my slegte gewoontes in die beloofde Paradys sou toelaat nie (1 Korintiërs 6:9, 10). Toe het ek besluit om my slegte humeur onder beheer te kry, op te hou rook en nooit weer soveel te drink of dwelms te gebruik nie.
In 1999, voordat ek my tronkstraf uitgedien het, het die owerheid my na ’n immigrasiekamp oorgeplaas. Ek het meer as ’n jaar lank nie kontak met die Getuies gehad nie. Maar ek was vasbeslote om aan te hou om veranderinge te maak. In die jaar 2000 het die regering besluit dat ek nie meer in die Verenigde State kan bly nie, en hulle het my toe na Tonga teruggestuur.
Toe ek terug in Tonga was, het ek dadelik Jehovah se Getuies gekontak en weer met my Bybelstudie begin. Ek het baie gehou van wat ek leer. Dit het my beïndruk om te sien dat alles wat die Getuies my op die eiland geleer het, ook op die Bybel gebaseer is, net soos die Getuies in die Verenigde State gedoen het.
My pa was bekend in die gemeenskap omdat hy ’n verantwoordelike posisie in die kerk gehad het. So aan die begin het my familie gewonder hoekom ek met Jehovah se Getuies assosieer, en dit het hulle ook geïrriteer. Maar later was my ouers baie bly dat Bybelwaarhede my gehelp het om op te hou met my slegte gewoontes en ’n goeie lewe te hê.
Een van die moeilikste veranderinge wat ek moes maak, het te doen gehad met ’n drankie wat algemeen in my kultuur misbruik word. Baie mans van Tonga spandeer elke week ure om kawa te drink. Dit is ’n drankie wat ’n bedwelmende uitwerking op mense het en wat van die wortels van ’n peperplant gemaak word. Toe ek nou terug was in my tuisland, het ek in die gewoonte gekom om amper elke aand na ’n kawa-klub te gaan en kawa te drink totdat ek amper bewusteloos was. Deel van die probleem was dat ek met vriende gekuier het wat glad nie respek vir Bybelstandaarde gehad het nie. Uiteindelik was ek gehelp om te sien dat my gewoontes nie vir God aanvaarbaar is nie. Ek het veranderinge gemaak sodat God my kon aanvaar en seën.
Ek het toe na al die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin gaan. Hierdie assosiasie met mense wat probeer om God gelukkig te maak, het my gehelp om nie verkeerde dinge te doen nie. In 2002 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.
HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET
My lewe het verbeter as gevolg van God se geduld. Die Bybel beskryf dit so: “Jehovah . . . is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Hy kon al lankal ’n einde gemaak het aan hierdie slegte ou wêreld, maar hy het toegelaat dat dit nog steeds aanhou sodat mense soos ek ’n vriendskap met hom kan hê. Ek wil graag glo dat hy my kan gebruik om ander te help.
Met Jehovah se hulp is ek nou weer in beheer van my lewe. Ek steel nie meer om vir ’n dodelike verslawing te betaal nie. Ek help eerder my bure om ook Jehovah se vriende te word. As gevolg van my assosiasie met Jehovah se Getuies het ek my wonderlike vrou, Tea, ontmoet. Ons het ’n klein seuntjie en saam het ons ’n gelukkige gesinslewe. Ons leer ander wat die Bybel sê oor die hoop wat ons in die toekoms het om vir ewig in ’n vreedsame paradys te lewe.