Hulle het hulle gewillig aangebied – In Bulgarye
Jehovah se Getuies in Bulgarye is besig om ander die waarheid oor God en sy Woord, die Bybel, te leer. Om hulle te help, het honderde Getuies vanaf die jaar 2000 van ander lande na Bulgarye getrek. Wat is die uitdagings om na ’n ander land te trek om daar te gaan preek? Hoekom is dit die moeite werd? Hier is ’n paar gedagtes van diegene wat na Bulgarye getrek het.
Stel die doelwit
Darren, wat in Engeland gebly het, het gesê: “Dit was nog altyd ons doelwit om in ’n land te dien waar daar hulp nodig is. Nadat ek met Dawn getrou het, het ons na Londen getrek om Russiese mense te help om oor die Bybel te leer. Ons het ’n paar keer spesifieke planne gemaak om in ’n ander land te gaan dien, maar ons kon vir verskeie redes nie gaan nie. Ons het amper hierdie plan opgegee, maar ’n vriend het ons gehelp om te sien dat ons omstandighede verander het en dat ons doelwit nog binne bereik was.” Darren en Dawn het begin soek na ’n land waar hulle Bybelonderrigters nodig gehad het en wat ’n realistiese opsie was. In 2011 het hulle na Bulgarye toe getrek.
Die goeie voorbeeld van diegene wat na ander dele van die wêreld getrek het, moedig party aan wat nie voorheen hierdie doelwit gehad het nie. Giada, wat in Italië saam met haar man, Luca, gewoon het, het gesê: “Ek het ywerige Getuies ontmoet wat gelukkig was terwyl hulle in Suid-Amerika en Afrika gedien het. Ek was diep geraak deur hoe gelukkig hulle is en deur die ondervindinge wat hulle met ons gedeel het. Dit het my gehelp om my doelwitte aan te pas in Jehovah se diens.”
Tomasz en Veronika het in 2015 van die Tsjeggiese Republiek na Bulgarye getrek, saam met hulle twee kinders, Klara en Mathias. Wat het hulle gemotiveer om te trek? Tomasz het gesê: “Ons het die voorbeelde van broers en susters oorweeg wat in ander lande gaan dien het, insluitende familielede, en ons het nagedink oor party van hulle ondervindinge. Ons is geraak deur hoe gelukkig hulle is, en ons het by die huis saam daaroor gepraat.” Hierdie gelukkige gesin preek nou in hulle nuwe gebied in die Bulgaarse stad Montana.
Linda is nog ’n Getuie wat na Bulgarye getrek het. Sy het gesê: “Baie jare gelede het ek Ecuador besoek en ander ontmoet wat daarheen getrek het om te preek. Dit het my laat dink dat ek ook dalk eendag kan dien waar daar hulp nodig is.” Petteri en Nadja, ’n paartjie van Finland, het ook nagedink oor die voorbeeld van ander. Hulle het gesê: “In ons tuisgemeente het ons ervare verkondigers wat na ander plekke getrek het om mense oor die Bybel te leer. Hulle het altyd met entoesiasme gepraat oor die jare wat hulle in hierdie soort diens spandeer het. Hulle het gesê dat dit die beste jare van hulle lewe was.”
Goeie beplanning
Goeie beplanning is baie belangrik vir dié wat wil dien waar daar hulp nodig is (Lukas 14:28-30). Nele, van België, sê: “Toe ek meer ernstig daaraan begin dink het om in ’n ander land te dien, het ek gebid en in ons publikasies gesoek na artikels oor hierdie onderwerp wat my kan help. Ek het dit studeer en gekyk na punte waaraan ek nog moet werk.”
Kristian en Irmina, van Pole, het meer as nege jaar in Bulgarye gebly. Hulle het besef hoe baie dit hulle gehelp het om ’n Bulgaarse groep in Pole by te woon voordat hulle getrek het. Die groep het hulle aangemoedig en hulle gehelp om die taal te leer. Kristian en Irmina het gesê: “Ons het besef hoe wonderlik dit is om jouself beskikbaar te stel en te sien hoe Jehovah God in jou behoeftes voorsien. Wanneer jy gewillig vir Jehovah sê: ‘Hier is ek! Stuur my!’, dan kan jy dinge doen wat jy nooit eers gedink het moontlik is nie.” – Jesaja 6:8.
Om voor te berei en geld te spaar, het Reto en Cornelia, ’n paartjie van Switserland, besluit om ’n eenvoudiger lewe te lei. Hulle het verduidelik: “’n Jaar voordat ons getrek het, het ons vir ’n week Bulgarye toe gegaan om meer uit te vind oor hoe dit sou wees om daar te bly. Daar het ons met ervare sendelinge gepraat wat ons praktiese raad gegee het.” Reto en Cornelia het hierdie voorstelle toegepas en bly nou meer as 20 jaar in Bulgarye.
Hoe hulle uitdagings hanteer het
Diegene wat na ’n ander land trek, moet by nuwe en dalk uitdagende omstandighede aanpas (Handelinge 16:9, 10; 1 Korintiërs 9:19-23). ’n Groot uitdaging vir baie is om ’n nuwe taal aan te leer. Luca, wat vroeër genoem is, het gesê: “Ons het dit altyd geniet om in ons eie woorde by Christelike vergaderinge te antwoord. Maar vir ’n rukkie was dit vir my en my vrou moeilik om selfs net ’n eenvoudige antwoord in Bulgaars voor te berei! Ons het soos kinders gevoel. Eintlik was die plaaslike kinders se antwoorde baie beter as ons s’n.”
Ravil, van Duitsland, het gesê: “Om die taal te leer, het my moeg gemaak. Maar ek het aanhou dink: ‘Moenie jouself te ernstig opneem nie, en hou jou sin vir humor wanneer jy foute maak.’ Ek kyk nie na die uitdagings as ’n probleem nie, maar as deel van my heilige diens aan Jehovah.”
Linda, wat vroeër genoem is, het gesê: “Ek is nie goed daarin om ’n nuwe taal aan te leer nie. Bulgaars is nie ’n maklike taal nie, en ek wou baie keer opgee. ’n Mens voel eensaam wanneer jy nie met mense kan praat nie en nie kan verstaan wat hulle sê nie. Om my verhouding met Jehovah sterk te hou, het ek alles in Sweeds studeer. Met die hulp van die broers en susters kon ek uiteindelik die taal leer.”
Nog ’n uitdaging is wanneer jy baie terug verlang huis toe. Dié wat wegtrek, laat hulle vriende en familie agter. Eva, wat saam met haar man, Yannis, na Bulgarye toe getrek het, het gesê: “Aan die begin het ek baie eensaam gevoel. Om dit te hanteer, het ons gereeld met ons vriende en familie by die huis gepraat, en ons het nuwe vriende hier gemaak.”
Daar is ander uitdagings. Robert en Liana, wat van Switserland af getrek het, het verduidelik: “Die taal en die kultuur was ’n groot uitdaging vir ons, en ons was nie voorbereid op hoe verskriklik koud die winters hier is nie.” Maar om positief te bly en ’n sin vir humor te behou, het hierdie paartjie gehelp om vir die afgelope 14 jaar getrou in Bulgarye te dien.
Die seëninge
Lilly moedig ander aan om te dien waar daar baie hulp nodig is. Sy het gesê: “Dit was vir my moontlik om Jehovah op ’n manier te leer ken wat ek dalk nie in my tuisland sou kon doen nie. Ek kan nou meer doen om ander te help, en dit help my om geestelik te groei en maak my gelukkig en tevrede.” Ravil, haar man, stem saam. Hy het gesê: “Dit is die beste lewe en ’n unieke geleentheid om ander ywerige Christene van verskillende lande te ontmoet. Hulle het baie ondervinding daarin om Bybelwaarhede aan ander te leer. Ek het baie by hulle geleer.”
Die gewillige gees en die beskikbaarheid van baie het daartoe gelei dat die “goeie nuus van die Koninkryk . . . oor die hele bewoonde aarde” suksesvol gepreek word (Matteus 24:14). Omdat hulle gewillig was om te trek om ander te help, het diegene wat na Bulgarye gekom het, gesien hoe Jehovah vir hulle die begeertes van hulle hart gee en al hulle planne suksesvol maak. – Psalm 20:1-4.