Spring na inhoud

Gebede vanuit ’n eikeboom

Gebede vanuit ’n eikeboom

 Rachel, wat nou in die Dominikaanse Republiek woon, sê: “Toe ek gebore is, het my ouers Jehovah gedien. Ongelukkig, toe ek sewe jaar oud was, het my pa opgehou om met Jehovah se volk te assosieer en het hy op ’n gewelddadige manier die waarheid begin teëstaan. Hy het dit vir my baie moeilik gemaak om Jehovah te aanbid. Byvoorbeeld, hy het probeer om my te kry om op te hou om Jehovah te dien in ruil vir dinge wat hy my kon gee – ’n selfoon, ’n reis na Disneyland of selfs ’n kredietkaart! Partykeer het hy my met sy vuiste geslaan in ’n poging om my te kry om op te hou om Jehovah te dien. Hy het gesê dat as ek nie kon praat of loop nie, sou ek nie die vergaderinge kon bywoon nie. Dit het nooit gewerk nie. Ek was nog altyd vasbeslote om vergaderinge by te woon.

 “My pa het seker gemaak dat hy my nooit geslaan het wanneer my ma daar was nie. Hy het vir my gesê dat hy haar sou seermaak as ek haar vertel dat hy my slaan. Hy het aangedring om my vegkuns te leer, wat hy dan as ’n verskoning gebruik het vir die kneusplekke wat ek gehad het.

 “Ek was te jonk en te bang vir my pa om my ma te vertel wat besig was om te gebeur. So ek het vir Jehovah gesê wat gebeur het. Ek het lang ente gaan stap in die woud agter ons huis in Maryland, VSA. In daardie woud was daar ’n pragtige eikeboom waarin ek geklim het, en dan het ek op ’n gemaklike tak met Jehovah gepraat. Ek het oor my gevoelens gebid en oor wat ek vir hom sou doen wanneer ek grootword – as hy my net sou help om lank genoeg te oorleef om daar uit te kom. Ek het met hom gepraat oor wat ek sal doen in die komende nuwe wêreld, die familie wat ek sal hê en die vrede en vreugde wat ek sal geniet sonder enige pyn en vrees.

 “Wanneer my pa ook al probeer het om my te kry om weg te draai van God deur my om te koop of te slaan, het ek altyd Jehovah se hand gevoel wat my vertroos en versterk het. God het my gehelp om lojaal en sterk te bly.

 “Ek is gedoop toe ek tien was, en twee jaar later het ek begin pionier. Eers het my pa nie hiervan geweet nie. Toe hy daarvan uitvind, het hy my geslaan dat my kakebeen uit lit uit was.

 “Party het vir my gesê dat ek te jonk was om te pionier, en hulle was bekommerd dat ek nie verstaan het hoe ernstig my besluit was nie. Maar ek het baie ander jong Getuies in my gebied gesien wat nie gefokus het op hulle diens aan Jehovah nie. Hulle was besig om partytjies te hou en pret te hê. En die dinge wat hulle gedoen het, het lekker gelyk! Partykeer wou ek ook daardie dinge doen. Ek het gewonder: ‘Moet ek ophou preek en net pret hê soos ander mense my ouderdom?’ Maar wanneer ek ook al so gevoel het, het ek met Jehovah daaroor gepraat.

 “Toe ek omtrent 15 jaar oud was, het iemand van ’n bekende modelagentskap my gekontak. Hulle het aangebied om my baie geld te betaal om saam met hulle te werk by hulle kantoor in Milaan, Italië. Dit het my goed laat voel om te dink dat ek ’n model kon wees, in tydskrifte kon verskyn en duur klere in modevertonings kon dra. Ek was amper drie jaar lank ’n gewone pionier, en ek het gedink: ‘Hierdie werk kan my finansieel ondersteun en my help om aan te hou om vir ’n lang tyd te pionier!’ My pa het ons gelos, so ek het ook gedink dat die geld my ma kon help met uitgawes.

 “Ek het oor die saak gebid. Ek het met my ma, wat al baie jare lank gepionier het, gepraat. En ek het ook met ’n ouerman vir wie ek lief was en gerespekteer het, gepraat. Soos gewoonlik het ek ook na my boom toe gegaan en weer gebid. Jehovah het my gebede beantwoord deur middel van die woorde in ’n vers in die Bybel wat die ouerman met my gedeel het. Dit is Prediker 5:4, wat sê: ‘Wanneer jy ’n gelofte aan God maak, moet jy dit nakom. As jy ’n gelofte maak, moet jy dit nakom.’ Ek het belowe om Jehovah ten volle te dien, en ek was bang dat hierdie werksaanbod my verhouding met Jehovah sou benadeel. Daarom het ek besluit om nie die aanbod te aanvaar nie.

 “Ten spyte van wat met my gebeur het toe ek jonger was, het ek dit oorleef! Ek het nou ’n gelukkige lewe saam met my man, Jaser, en ons seun, Connor, wat nege jaar oud is. Jaser is ’n ouerman, en Connor is ’n ongedoopte verkondiger. Ek is al amper 27 jaar lank in voltydse diens.

 “Ek dink dikwels aan die lang gesprekke wat ek met Jehovah gehad het vanuit die eikeboom in die woud agter ons huis. Ek het Jehovah gesmeek om my te help, en hy het dit op ’n wonderlike manier gedoen. Hy het my versterk, vertroos en gelei. Regdeur my lewe het Jehovah oor en oor vir my gewys wat ’n wonderlike Vader hy is. Ek is bly dat ek gekies het om hom met my hele hart te dien. Dit is die beste besluit wat ek nog ooit geneem het.”