Spring na inhoud

’n Blinde vrou se gebede word beantwoord

’n Blinde vrou se gebede word beantwoord

 Janmei, ’n Getuie in Asië, het aangebied om ’n blinde vrou met die naam Mingjie oor die pad te help. a Mingjie het toe geantwoord: “Dankie. Mag God jou seën!” Daarna het Janmei vir Mingjie gevra of sy die Bybel wil bespreek. Mingjie het later gesê dat sy elke dag gebid het om by die ware gemeente van God uit te kom. Hoekom het sy daarvoor gebid?

 Mingjie het verduidelik dat sy in 2008 ’n uitnodiging van ’n blinde vriendin aanvaar het om na ’n kerk vir gestremdes te gaan. Nadat Mingjie na die preek geluister het, het sy die priester gevra uit watter boek hy aangehaal het. Hy het vir haar gesê dat dit die Bybel was, die ware Woord van God. Mingjie het ’n sterk begeerte gehad om dit te lees. So sy het die Bybel in Chinese braille gekry en het die 32 boekdele in omtrent ses maande gelees. Terwyl Mingjie aangehou het om die Bybel te lees, het sy besef dat die Drie-eenheidsleerstelling wat by die kerk geleer word, vals is en dat God ’n naam het, Jehovah.

 Mettertyd was Mingjie teleurgesteld in hoe die mense by die kerk opgetree het. Sy het besef dat hulle nie lewe volgens wat sy in die Bybel lees nie. Byvoorbeeld, die blindes het oorskietkos gekry, terwyl die res vars kos gekry het. Mingjie was baie hartseer oor sulke onregverdigheid, so sy het na ander kerke in haar gebied begin soek. Dit is hoekom Mingjie gebid het om die ware Christengemeente te kry.

 Omdat Mingjie Janmei se goedheid waardeer het, het sy haar aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar. Mingjie het later haar eerste vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon. Mingjie vertel: “Ek sal nooit my eerste vergadering vergeet nie. Die broers en susters het my almal vriendelik gegroet. Dit het my hart geraak. Al is ek blind, het ek die onpartydige liefde gevoel.”

 Mingjie het goed gevorder en het gereeld vergaderinge begin bywoon. Sy het veral daarvan gehou om Koninkryksliedere te sing, maar dit was vir haar moeilik omdat die sangboek nie beskikbaar was in die braille wat sy gelees het nie. So met die hulp van die gemeente het Mingjie haar eie sangboek gemaak. Dit het haar 22 uur gevat om al 151 liedjies in braille oor te skryf! In April 2018 het Mingjie begin om velddiens te doen. Daarna het sy omtrent 30 uur elke maand aan die bediening deelgeneem.

Om ’n boek in braille oor te skryf, is nie maklik nie

 Om Mingjie te help om voor te berei vir doop, het Janmei ’n oudio-opname gemaak van die vrae en die Bybelverse in die boek Georganiseer om Jehovah se wil te doen. In Julie 2018 is Mingjie gedoop. Sy sê: “Die liefde wat die broers en susters by daardie byeenkoms gewys het, het my diep geraak. Ek was so gelukkig dat ek begin huil het omdat ek uiteindelik deel was van die ware gemeente van God” (Johannes 13:34, 35). Nou is Mingjie vasbeslote om dieselfde liefde wat aan haar gewys is, aan ander te wys, en sy dien nou as ’n voltydse bedienaar.

a Party name is verander.