Sy was verbaas oor die resultate
’n Enkelma met die naam Desicar wou meer doen in haar bediening deur ’n gewone pionier te word. Sy bly in Venezuela, waar daar ernstige ekonomiese probleme is. Maar sy was vasbeslote om te begin pionier, en sy het. Sy was bly daaroor, maar toe het die COVID-19-pandemie begin.
Aan die begin van die COVID-19-pandemie was dit vir Desicar moeilik om haar bediening aan te pas by die nuwe omstandighede. Dit was vir haar ’n uitdaging om briewe te skryf. Sy kon ook nie videoverbinding in haar bediening gebruik nie omdat die Internet-dienste in haar gebied baie duur is. Sy sê: “Ek was mismoedig. Skielik kon ek nie meer so baie preek soos voorheen nie. Ek het gedink dat ek nie meer so doeltreffend is as ’n gewone pionier nie.”
Toe, in Januarie 2021, het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Venezuela ’n spesiale predikingskampanje goedgekeur. Reëlings is gemaak vir sowat 60 radiostasies en 7 televisiekanale om sekere openbare Bybeltoesprake gedurende al vyf naweke van daardie maand uit te saai. Getuies is aangemoedig om belangstellendes te nooi om daarna te kyk en te luister. Die takkantoor het ook vrae en tekste voorsien wat met elke toespraak verband gehou het, wat ons broers en susters in hulle briewe en telefoongesprekke kon gebruik. Die takkantoor het ook die gebruik van teksboodskappe in die bediening beklemtoon – ’n nuwe manier om te preek vir baie Getuies in Venezuela.
Desicar was opgewonde om deel te neem aan die kampanje. Al het sy nog nooit teksboodskappe gebruik om te preek nie, het sy besluit om dit te probeer. Maar sy het hulp nodig gehad. Desicar erken: “Ek is nie goed met tegnologie nie.” Daarom het sy haar dogter gevra om haar te leer, en ná net ’n paar lesse was Desicar reg om deel te neem aan die kampanje.
Deur teksboodskappe van haar foon af te stuur, het Desicar baie mense wat sy ken, genooi om na die toesprake wat vooraf opgeneem is, te luister. Sy was verbaas oor die resultate. Baie van die mense wat Desicar genooi het, het na die toesprake geluister en vrae gevra. Ander kon nie daarna kyk of luister nie, maar het Desicar gevra wat in die toesprake bespreek is. Desicar sê: “Ek het ’n opsomming van my notas gemaak en dit met hulle gedeel. Ek het nooit meer as 5 herbesoeke in ’n maand gedoen nie, maar teen die einde van die kampanje het ek 112 gedoen!” a
Desicar het ook haar suster wat nie ’n Getuie is nie en wat langs haar woon, genooi om na die toesprake op die radio te luister. Desicar sê: “Tot my verbasing het my suster ingestem. Elke Sondagoggend agtuur het ek na haar woonstel gegaan en het ons saam na die toesprake geluister. Sy het gedurende en ná die program baie vrae gehad.” Desicar se suster het ook die Herdenking van Jesus se dood deur middel van videoverbinding bygewoon, en sy het Desicar toegelaat om haar Internet vir die bediening te gebruik.
Desicar sê: “Ek is so dankbaar teenoor Jehovah. Ek wil ook vir my gemeentelike ouermanne dankie sê dat hulle my altyd aangemoedig het. Hulle het my gehelp om my bediening weer te geniet” (Jeremia 15:16). Desicar hou aan om te pionier en volg die belangstelling op wat sy deur middel van teksboodskappe gekry het.
a Jehovah se Getuies is gehoorsaam aan die wette oor databeskerming wanneer hulle aan hulle bediening deelneem.