Spring na inhoud

’n Publieke telefoon vir Bybelstudies

’n Publieke telefoon vir Bybelstudies

 Daiane is een van Jehovah se Getuies en ’n voltydse evangelieprediker in Brasilië. Eendag, terwyl sy die Bybel se boodskap oor die telefoon gedeel het, het sy met ’n jong getroude paartjie gepraat wat belangstelling getoon het. Hulle het vir Daiane gesê dat hulle na ’n afgeleë dorpie gaan trek waar daar geen elektrisiteit of internettoegang is nie. Daar woon ook geen Getuies nie. Die paartjie het vir Daiane die nommer van ’n publieke telefoon in die dorpie gegee sodat hulle hulle Bybelgesprekke kon voortsit. En die drie van hulle het ’n dag en tyd gekies wanneer hulle kon praat.

 Daiane het na die publieke telefoon gebel op die tyd wat hulle gekies het, en die paartjie het geantwoord! Oor die volgende twee weke het hulle nog drie Bybelgesprekke met Daiane oor die telefoon gehad.

 Maar daarna het die paartjie nie meer haar oproepe beantwoord nie. Sonder om ontmoedig te word, het Daiane aangehou om drie keer ’n week na die publieke telefoon te bel, en sy het die Bybel bespreek met die persoon wat geantwoord het. As gevolg hiervan kon Daiane ’n hele paar Bybelstudies met mense in die dorpie begin.

 Eendag, terwyl Daiane en haar man ’n Bybelstudie gehou het met ’n jong man oor die publieke telefoon, het ’n kerkleier in die dorpie die gesprek afgeluister. Hy het langs die Bybelstudent gestaan om die gesprek beter te hoor. Toe het die kerkleier gevra om met Daiane en haar man te praat. Hy het dit wat hy gehoor het, soveel geniet dat hy ook ’n Bybelstudie wou hê!

 Met verloop van tyd het Daiane en haar man ses Bybelstudies oor die foon in die afgeleë dorpie gehou, insluitende ’n studie met die kerkleier. Party van die studente het alreeds Christelike vergaderinge bygewoon deur middel van telefoonverbinding met dieselfde publieke telefoon. Een van die studente het selfs ’n bankie gemaak sodat hulle daar kon sit gedurende hulle studie.

 Daiane en haar man is dankbaar dat hulle die geleentheid gehad het om die Koninkryksboodskap in hierdie afgeleë dorpie te versprei. Daiane sê: “Jehovah kan seker maak dat enige iemand die goeie nuus kan hoor, selfs al woon hy in ’n afgeleë plek.”