12 SEPTEMBER 2024
ANGOLA
Bybelstudieprogram word aan meer as 200 mense by internasionale skou in Angola gedemonstreer
Vanaf 23 tot 28 Julie 2024 is Luanda se 39ste Internasionale Skou in Luanda, Angola, gehou. Hierdie jaarlikse geleentheid het uitstallings van amper 1 800 tentoonstellers gehad, en omtrent 100 000 mense het die skou besoek. Jehovah se Getuies het ’n stalletjie gehad met Bybelpublikasies in nege tale. Die stalletjie het ook ’n gedeelte ingesluit waar besoekers kon sit en meer oor ons Bybelstudieprogram kon leer. Die program is 227 keer gedurende die skou gedemonstreer, en meer as 100 mense het gevra om by hulle huis besoek te word.
Toe ’n vrou na die stalletjie gekom en gesê het dat sy meer oor die Bybel wil leer, het ’n suster vir haar ’n studie aangebied. Gedurende hulle gesprek het die vrou baie vrae gevra en veral belanggestel in wat die Bybel oor die toekoms belowe. Sy studeer nou die Bybel saam met ons suster.
’n Ander vrou was verbaas om uit te vind dat ons ons Bybelonderrigtingswerk verniet doen. Ons suster het verduidelik dat ons dit doen omdat ons die goeie nuus oor God se Koninkryk met soveel mense as moontlik wil deel. Nadat die suster uitgevind het dat die vrou in die verlede die Bybel saam met die Getuies studeer het, het sy vir haar die video Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? gewys. Die vrou was baie bly om uit te vind dat almal welkom is om ons vergaderinge by te woon en het gesê dat sy meer wil leer.
’n Vrou van Portugal was opgewonde om Jehovah se Getuies by die skou te sien. Sy het verduidelik dat sy gereeld met haar buurvrou, wat ’n Getuie is, praat. Sy het gesê: “Ek is baie beïndruk met julle organisasie, en ek wil meer daaroor leer!” Die vrou het belowe om haar buurvrou vir ’n Bybelstudie te vra wanneer sy weer terug in Portugal is.
Ons is bly dat baie mense in Angola meer oor die Bybel wil leer en gretig is om Jehovah se uitnodiging te aanvaar om te kom en “verniet van die water van die lewe [te] drink”. – Openbaring 22:17.