Spring na inhoud

7 MEI 2015
ANGOLA

Getuies help slagoffers van oorstromings in Angola

Getuies help slagoffers van oorstromings in Angola

Sewentig sentimeter modder en water moes uit hierdie Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Lobito verwyder word.

LUANDA, Angola—Vanaf 11 Maart 2015 het stortreën oorstromings veroorsaak in die provinsie Benguela, sowat 500 kilometer van die hoofstad Luanda. Dit het 85 mense se lewens geëis en 119 huise vernietig. Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Angola het bevestig dat geen Getuies gesterf het nie, maar dat 11 huise van Getuies vernietig of erg beskadig is. In Lobito is een Koninkryksaal—’n plaaslike plek van aanbidding—ook deur die oorstromings beskadig.

Die oggend ná die reënstorm het die Getuies ’n noodlenigingskomitee georganiseer om te bepaal hoe groot die skade is en om noodleniging te reël. Die Getuies het noodleniging aan hulle medeaanbidders en nie-Getuies in die rampgebied voorsien. By die Koninkryksaal in Lobito het vrywilligers hulle ingespan om 70 sentimeter modder en water te verwyder en ander herstelwerk te doen sodat een van ’n reeks spesiale vergaderinge die naweek ná die stortreën daar gehou kon word. Verteenwoordigers van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Angola het van Luanda gekom om hierdie vergaderinge by te woon en geestelike vertroosting en aanmoediging aan die plaaslike Getuies te voorsien.

Plaaslike Getuievrywilligers het ’n beskadigde Koninkryksaal in Lobito skoongemaak en herstel.

’n Woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Angola, Todd Peckham, sê: “Ons het medelye met almal wat herstel van die verwoesting wat deur hierdie oorstromings veroorsaak is. Die takkantoor in Angola sal voortgaan om toesig te hou oor die werk van die noodlenigingskomitee en om diegene in die gemeenskap te ondersteun.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Angola: Todd Peckham, tel. +244 222 460 192

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000