9 SEPTEMBER 2020
ARGENTINIË
Bybelonderrigting bereik gevangenes in die tronk gedurende pandemie
In die provinsie San Luis in Argentinië hou ons broers weeklikse vergaderinge en Bybelstudies deur middel van videoverbinding met gevangenes in ’n maksimum-sekuriteitstronk. Dit is die eerste keer in Argentinië dat dit vir ons broers moontlik is om op hierdie manier vir mense in die tronk te preek.
Ons broers in San Luis het jare lank gereeld na die maksimum-sekuriteitstronk gegaan om vergaderinge en Bybelstudies te hou. Maar vanaf Maart 2020, toe die land se grendeltydperk begin het, is hierdie reëling tydelik gestop. Met die toestemming van die tronkowerheid kon die broers deur middel van videoverbinding met die vergaderinge en Bybelstudies voortgaan.
Die direkteur van die tronk was so beïndruk deur die veranderinge wat die gevangenes as gevolg van die broers se besoeke gemaak het, dat hy en sy vrou ook nou vergaderinge begin bywoon het. Hy sê: “Hierdie vergaderinge is baie belangrik om die gevangenes te help om gelukkiger en nader aan God te voel gedurende hierdie tyd wanneer mense hulle nie in die tronk kan kom besoek nie. Die vergaderinge help die gevangenes ook om in vrede saam te lewe. Bybelonderrigting help ons beslis om ons doelwit te bereik om die gevangenes te help om beter lede van die gemeenskap te word.”
’n Gevangene het ’n brief geskryf aan die broers wat die vergaderinge en Bybelstudies by die tronk reël. Hy het gesê: “Op die dae wat ek die selblok verlaat om die vergadering by te woon . . . verdwyn die moegheid, probleme, stres, hartseer en eensaamheid en is ek regtig gelukkig. Baie dankie.”
Terwyl die wêreldwye pandemie aanhou, word ons aangemoedig deur die feit dat ons broers mense help om by die Bybel se boodskap baat te vind. – Jesaja 48:17, 18.