Spring na inhoud

29 JUNIE 2023
ARGENTINIË

Die goeie nuus word gedeel in afgesonderde gebiede van Argentinië en Uruguay

Die goeie nuus word gedeel in afgesonderde gebiede van Argentinië en Uruguay

Die takkantoor in Argentinië het ’n spesiale predikingskampanje gereël in afgesonderde gebiede in Argentinië en Uruguay vanaf Januarie tot April 2023. Die meer as 9 500 verkondigers wat deelgeneem het, was in amper 700 groepe verdeel. Hulle het 146 gemeentes van Jehovah se Getuies wat in die afgeleë gebiede van die takkantoor is, gehelp.

Meer as ’n miljoen mense bly in klein dorpies, inheemse gemeenskappe en plattelandse gebiede in Argentinië en Uruguay. Gedurende die afgelope drie jaar was dit vir verkondigers moeilik om hierdie gebiede te bereik. Ons broers en susters was opgewonde om weer die Bybel se boodskap in hierdie verafgeleë gebiede te kon verkondig.

Broer Adrián Donadío en sy vrou, Karina, het omtrent 1 600 kilometer gereis om by hulle toewysing in Tartagal, Argentinië, te kom. Adrián het gesê: “Toe ons die geestelike behoefte van die mense sien, was ons so bly om mense deur middel van die goeie nuus aan te moedig.”

In die dorp Barrancas, Argentinië, het twee verkondigers ’n bejaarde paartjie wat in hulle 90’s is voor die pandemie besoek en die Bybel met hulle begin studeer. Omdat hulle huis so afgesonderd is en hulle nie goeie internetverbinding het nie, het hulle drie jaar lank geen kontak met die gemeente gehad nie. Maar hulle het aangehou met ’n roetine van daaglikse Bybellees en het vir Jehovah gebid dat iemand hulle weer moet kontak. Hulle was baie bly toe die broers gedurende die kampanje weer by hulle uitgekom het. Hulle het Jehovah gedank omdat hy hulle gebede beantwoord het, en reëlings is gemaak om met hulle studie aan te gaan.

Broer Eduar Ferreira en sy vrou, Alejandra, ’n gewone pionierpaartjie van Montevideo, Uruguay, het 400 kilometer gereis om deel te neem aan die kampanje in ’n afgeleë deel van die land. Hulle drie kinders, wat 17, 15 en 11 jaar oud is, het saam met hulle gegaan. Eduar het gesê: “Dit was wonderlik om te sien hoeveel ons kinders dit geniet het om te preek. As ’n gesin is ons reg vir die volgende kampanje!”

Ons is baie bly om te sien hoe Jehovah ons broers en susters geseën het terwyl hulle hulle ingespan het “om deeglik te getuig” in hierdie afgesonderde gebiede. – Handelinge 10:42.