Spring na inhoud

15 MEI 2024
ARGENTINIË

Spesiale uitstalling oor die Nazi-vervolging van Jehovah se Getuies begin in Argentinië

Spesiale uitstalling oor die Nazi-vervolging van Jehovah se Getuies begin in Argentinië

Op 3 April 2024 het ’n tydelike uitstalling met die naam “Pers driehoeke: ’n Verhaal van moed en uithouvermoë” by die Nazi-slagting-museum in Buenos Aires, Argentinië, begin. Die uitstalling sal tot 4 Augustus 2024 duur.

Meer as 16 000 Getuies van Jehovah is as gevolg van hulle neutrale standpunt deur die Nazi’s vervolg. Ongeveer 4 500 Getuies is na konsentrasiekampe gestuur, en omtrent 1 750 het hulle lewe verloor. Jehovah se Getuies is in die kampe geïdentifiseer deur ’n pers driehoek wat aan hulle klere vasgewerk is.

Die uitstalling gebruik geskiedkundige inligting en ondervindinge van mense wat weet wat in daardie tyd gebeur het. Dit wys hoe Jehovah se Getuies in lande wat onder die Nazi-regering se beheer was, hulle integriteit behou en sterk gebly het. Oudio-toere, raakskerms en verskillende video’s is in Argentynse Gebaretaal, Engels en Spaans beskikbaar. Daar is ook toergidse wat besoekers deur die uitstalling neem.

Links: ’n Toergids gebruik die raakskerm terwyl sy ’n besoeker deur die uitstalling neem. In die middel: ’n Besoeker neem ’n foto van klere wat in die konsentrasiekamp gedra is. Regs: Twee besoekers doen die oudio-toer

’n Kopie van die verklaring, wat in Spaans vertaal is, wat die Getuies se vryheid beloof het as hulle ophou om Jehovah te dien

Die uitstalling sluit ook ’n kopie van ’n dokument in wat die Nazi’s gebruik het in hulle pogings om die Getuies se integriteit te breek. Die Nazi’s het herhaaldelik ons broers en susters probeer dwing om ’n dokument te teken wat gesê het dat hulle Jehovah nie meer dien nie en nie meer een van Jehovah se Getuies is nie. As hulle dit geteken het, kon hulle die kamp verlaat. Baie min Getuies het dit geteken. ’n Interessante deel van die uitstalling nooi besoekers om hulle voor te stel hoe dit vir Jehovah se Getuies moes gewees het. Die verklaring word aan besoekers gegee, en hulle word aangemoedig om na te dink oor die moed en vasbeslotenheid wat die Getuies nodig gehad het om dit nie te teken nie.

Professor Isabel Burnstein, ’n navorser wat spesialiseer in studies oor die Nazi-slagting, het die volgende opmerkings gemaak nadat sy die toer gedoen het. Sy het gesê: “Die uitstalling help besoekers om te verstaan hoekom Jehovah se Getuies geweier het om hulle geloof prys te gee en gekies het om te doen wat hulle gedink het, reg is. In ’n wêreld waar dit lyk asof beginsels nie meer belangrik is nie, moedig hulle verhale ons aan om waardes wat sterk en betekenisvol is, te verdedig.”

Verskeie broers en susters wat as toergidse by die uitstalling gehelp het

Vandat die uitstalling oopgemaak het, het meer as 8 400 besoekers dit besoek. Broer Marcos Donadío, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Argentinië, het gesê: “Hierdie uitstalling sal mense wat nie bekend is met Jehovah se Getuies nie, help om die geskiedenis en die geloof wat ons lewens rig, beter te verstaan. Ons is baie opgewonde en hoop dat soveel mense moontlik die geleentheid sal hê om dit te sien.”

Ons is dankbaar vir hierdie uitstalling wat die moed en integriteit van Jehovah se volk beklemtoon. Mag die voorbeeld van hierdie getroue Getuies ons beweeg om alles te doen wat ons kan om “tot die einde toe standvastig” te bly. – 1 Korintiërs 1:8.