9 DESEMBER 2019
ARMENIË
Armenië het 22 broers onregverdig gevonnis vir gewetensbeswaar, beslis EHMR
Op 5 Desember 2019 het al die regters van die Europese Hof van Menseregte (EHMR) beslis dat Armenië verkeerd was om 22 Getuies van Jehovah tronk toe te stuur omdat hulle nie militêre diens wou doen nie. Die EHMR het beslis dat Armenië die broers ongeveer R3 820 000 moet gee. Dit is die meeste geld wat die EHMR ’n regering beveel het om aan ons broers te gee in ’n saak van gewetensbeswaar.
In 2012 is die broers skuldig bevind omdat hulle gewetensbeswaar teen militêre diens gehad het en geweier het om alternatiewe burgerlike diens te doen. Die broers het geweier om op daardie stadium alternatiewe burgerlike diens te doen omdat dit onder militêre toesig was. Daarom het 20 uit die 22 broers voor 2013 tronk toe gegaan. In 2013 het Armenië alternatiewe burgerlike diens, wat nie onder militêre toesig is nie, begin toelaat en opgehou om ons broers vir gewetensbeswaar tronk toe te stuur.
Die EHMR se beslissing is gebaseer op ’n vorige beslissing ten gunste van Jehovah se Getuies wat in 2017 in die saak Adyan and Others v. Armenia gemaak is. Die EHMR het gesê dat Armenië geweet het dat die twee sake soortgelyk is. So Armenië moes ’n beter oplossing vir die 22 broers gekry het. Ten spyte van ons broers se pogings oor die afgelope jaar het die regering geweier om tot ’n ooreenkoms te kom. Daarom het al die regters in die EHMR ten gunste van ons broers beslis.
Ons is baie bly dat Armenië se standpunt teenoor gewetensbeswaar vanaf 2013 baie verbeter het. Ons broers word nie meer tronk toe gestuur of het nie meer ’n kriminele rekord omdat hulle neutraal is nie. Vir die afgelope sewe jaar was Armenië se nie-militêre alternatiewe burgerlike diens regtig ’n goeie voorbeeld vir ander lande. Maar die EHMR se beslissing van 5 Desember sê dat Armenië skuldig is omdat hulle nie in 2012 gebly het by internasionale wetgewing nie.
Met hierdie beslissing stuur die EHMR ’n duidelike boodskap dat hulle bereid is om ’n land swaar te beboet wat weier om te luister na wette oor internasionale menseregte. Ons sê dankie vir Jehovah dat hy hierdie ongelooflike regsoorwinning aan ons broers in Armenië gegee het. Ons bid dat dit die weg open vir ons broers in ander lande om gewetensbeswaar teen verpligte militêre diens te hê. Ons bid ook dat hulle die opsie vir alternatiewe burgerlike diens sal hê waar dit nog nie beskikbaar is nie, in lande soos Azerbeidjan, Suid-Korea, Turkye en Turkmenistan.