Spring na inhoud

16 OKTOBER 2017
ARMENIË

Europese Hof van Menseregte bevestig die reg van gewetensbeswaardes in Armenië

Europese Hof van Menseregte bevestig die reg van gewetensbeswaardes in Armenië

Op 12 Oktober 2017 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) beslis dat vier Getuies van Jehovah in Armenië onregverdig tronk toe gestuur was. Die Getuiemans was gevonnis omdat hulle geweier het om alternatiewe diens te doen wat onder die beheer en toesig van die weermag was. Die EHMR het beslis dat die vier jong mans verkeerdelik skuldig bevind was omdat Armenië hulle nie die kans gegee het om ware alternatiewe burgerlike diens te doen nie.

Die saak, Adyan and Others v. Armenia, was in verband met Artur Adyan, Vahagn Margaryan, Harutyun Khachatryan en Garegin Avetisyan. In 2011 is elkeen van hulle skuldig bevind en tot twee en ’n half jaar tronkstraf gevonnis. Die EHMR het bevind dat hierdie jong mans se reg op gewetens- en godsdiensvryheid geskend is, toe hulle vervolg en skuldig bevind is. Hierdie reg word gewaarborg deur Artikel 9 van die Europese Konvensie oor Menseregte (Konvensie). Armenië is beveel om EUR 12 000 (R 193 000) aan elkeen van hulle te betaal om te vergoed vir die pyn en swaarkry wat hulle deurgemaak het.

Die jong mans is skuldig bevind kort nadat die Groot Kamer van die EHMR, in die saak van Bayatyan v. Armenia (2011), beslis het dat die Konvensie die reg beskerm van persone wat as gevolg van gewetensbeswaar weier om militêre diens te doen. * As gevolg van hierdie beslissing moes Armenië aan gewetensbeswaardes ’n alternatief vir militêre diens bied. Maar die alternatiewe diens wat op daardie stadium in Armenië beskikbaar was, het nie aan internasionale standaarde voldoen nie omdat dit onder die beheer en toesig van die weermag was. Die vier jong mans het geweier om hierdie soort alternatiewe diens te doen en daarom is hulle, asook baie van hulle mede-gelowiges, tronk toe gestuur. In Adyan, het die EHMR beslis dat Armenië ’n “ware burgerlike alternatief vir militêre diens wat nie ’n afskrikmiddel of ’n straf is nie” aan gewetensbeswaardes moet bied.

Teen die einde van 2013, nadat die vier jong mans in Adyan uit die tronk vrygelaat is, het Armenië uiteindelik ’n ware alternatiewe burgerlike diens ingestel wat nie onder beheer of toesig van die weermag is nie. Daarom word Getuies van Jehovah in Armenië wat gewetensbeswaardes is, nie meer in die tronk opgesluit omdat hulle hulle Bybelopgeleide gewete gehoorsaam en weier om militêre diens te doen nie. Hulle is baie dankbaar dat hulle nou ’n kans het om ware alternatiewe diens te doen.

^ par. 3 Bayatyan v. Armenia [GC], no. 23459/03, ECHR 2011