Spring na inhoud

5 FEBRUARIE 2015
ARMENIË

Armenië implementeer met welslae alternatiewe burgerlike diens

Armenië implementeer met welslae alternatiewe burgerlike diens

Een jaar nadat dit geïmplementeer is, is Armenië se program vir alternatiewe burgerlike diens goed op dreef. Die eerste jong mans wat aan die nuwe program deelgeneem het, is Jehovah se Getuies. Hulle doen voordelige vorme van openbare diens in plaas daarvan om ’n tronkstraf uit te dien weens gewetensbeswaar teen diensplig.

Sedert 1985 is alle jong Getuiemans in Armenië wat weens gewetensbeswaar diensplig weier, tronk toe gestuur. Omdat die wet geen voorsiening vir alternatiewe burgerlike diens gemaak het nie, was meer as 450 Getuies oor ’n tydperk van 20 jaar in die tronk, dikwels onder haglike omstandighede. Dit het in Junie 2013 verander toe Armenië sy Wet op Alternatiewe Burgerlike Diens gewysig het.

Op 23 Oktober 2013 het die Armeense Republikeinse Komitee die eerste aansoeke om alternatiewe burgerlike diens toegestaan aan 57 gewetensbeswaardes teen diensplig, wat almal Jehovah se Getuies is. * Later het die Republikeinse Komitee ander Getuies aan die program laat deelneem. Een-en-sewentig jong Getuiemans het gedurende die week van 13 Januarie 2014 met hulle werkstoewysings begin. Teen die einde van 2014 was meer as 126 Getuies besig om alternatiewe burgerlike diens te doen.

’n Suksesvolle program

Die sukses van die program vir alternatiewe burgerlike diens kan duidelik gesien word in die kommentare van direkteure, opsigters en medewerkers, wat die goeie werketiek, hulpvaardige gesindheid en eerlike gedrag van die jong Getuiemans opgemerk het. Etlike lede van die Republikeinse Komitee het erken dat die Getuies ’n waardevolle diens lewer aan die Armeense regering en hulle verantwoordelikhede pligsgetrou nakom.

  • “Julle doen wonderlike werk vir die land al verdien julle maar bitter min. Dit is duidelik dat julle hardwerkend is.”—Opsigter by die Jerewan/Sjengawit-Gemeenskapsdienste.

  • “Welgedaan! Julle probeer om volgens Christelike beginsels te lewe en terselfdertyd ’n nuttige rol in die samelewing te speel.”—Verpleegster by ’n weeshuis waar Getuies as werkers aangewys is.

  • “Is daar nog mense soos julle? Hulle moet vir my kom werk!”—Direkteur by die Jerewan/Arabkir-Gemeenskapsdienste.

Getuies wat alternatiewe burgerlike diens doen, het ’n park in die middel van Jerewan, naby Republic Square, skoongemaak en opgeknap.

Die Getuies wat aan die program vir alternatiewe burgerlike diens deelneem, het ook positiewe dinge daaroor te sê gehad.

  • “My werksmaats hou van my en respekteer my. Toe ek eenkeer siek was en by die huis moes bly, het my werksmaats selfs gebel om uit te vind hoe dit met my gaan. Ek beskou dit alles as ’n seën, want dit stel my in staat om God vryelik te dien.”—Geworg Tasijan, aangewys om te help met vervoer by die Gebiedsafdeling van die Departement vir Noodsituasies en Reddingsdienste.

  • “By die werk het ons ’n goeie verhouding met die bestuur en die personeel. Hulle liefde het ons beweeg om alles in ons vermoë te doen om hulle te help. Soms is ons werk gegee wat nie ons verantwoordelikheid was nie, maar ons het dit in elk geval gedoen.”—Samwel Abrahamjan, aangewys tot die Psigiatriese Hospitaal van Sewan as ’n tuinier.

  • “Daar is 13 van ons wat op 14 Januarie 2014 by die Departement vir Noodsituasies begin werk het. Tot vandag toe geniet ons ’n goeie verhouding met almal. Daar is geen onenighede met die bestuur nie. Hulle is beïndruk met die manier waarop ons al die werk saam doen.”—Artsroen Khatsjatrian, aangewys tot die Departement vir Noodsituasies as ’n tuinier.

’n Rede waarom Armenië se program vir alternatiewe burgerlike diens van die begin af so suksesvol was, is die samewerking van die direkteure en opsigters asook die positiewe gesindheid en goeie werketiek van die Getuies. Jehovah se Getuies in Armenië is dankbaar vir die geleentheid om hulle land te dien sonder om hulle godsdiensoortuigings prys te gee of opgesluit te word weens hulle gewetensbeswaar teen diensplig.