Oorsig van Armenië
Jehovah se Getuies kan vryelik in die Republiek van Armenië aanbid en hulle godsdiensbedrywighede sonder noemenswaardige probleme voortsit. Hulle het in Oktober 2004 wetlike erkenning ontvang.
Tot Oktober 2013 was die grootste uitdaging waarmee die Getuies in Armenië te kampe gehad het, die feit dat daar nie voorsiening gemaak is vir aanvaarbare alternatiewe burgerlike diens nie. Armenië se program was onder militêre toesig en enigiemand wat nie diensplig wou doen nie, is tronkstraf opgelê. Sedert 1993 is honderde jong Getuiemans wat weens gewetensbeswaar geweier het om diensplig te doen, lang vonnisse opgelê, en party van hulle het haglike toestande verduur. Uiteindelik, op 8 Junie 2013, het Armenië sy Wet op Alternatiewe Burgerlike Diens in ooreenstemming gebring met Europese standaarde. Op 23 Oktober 2013 het die Armeense Republikeinse Komitee die eerste aansoeke om alternatiewe burgerlike diens aan 57 van Jehovah se Getuies toegestaan. Die program is suksesvol, aangesien dit hulle toelaat om hulle land te dien en terselfdertyd ’n goeie gewete te behou.
Hoewel goeie vordering gemaak is, word daar nog steeds teen Jehovah se Getuies gediskrimineer. Party munisipaliteite weier om permitte aan hulle toe te staan om hulle plekke van aanbidding te bou, doeanebeamptes hef buitensporige belastings op die invoer van hulle godsdienstige lektuur en teenstanders belaster hulle in die media en op ander openbare forums. Jehovah se Getuies het hulle tot plaaslike en internasionale howe gewend in ’n poging om hierdie kwessies op te los.