26 AUGUSTUS 2022
AUSTRALIË
Jongste nuus oor die opname van Episode 1 van Die goeie nuus volgens Jesus
Op 12 Augustus 2022 is die eerste fase van die opname vir Episode 1 van Die goeie nuus volgens Jesus voltooi. Ná ’n kort onderbreking sal die tweede fase van die opname begin, en dit sal omtrent Oktober 2022 voltooi word.
Soos voorheen berig is, het die broers op 20 Mei 2022 met die opname van Die goeie nuus volgens Jesus begin, en hoofsaaklik van binnenshuise stelle gebruik gemaak. Op daardie stadium het die broers nog gewag vir die finale dokumentasie van nog ’n ondersteuningsgebou en die geskiedkundige filmstel wat buite is. Hierdie dokumente is op 15 Julie 2022 gefinaliseer. Die takkantoor van Australasië se konstruksie-afdeling het die gebou en die filmstel aan die Streekvideospan (RVT) oorhandig. Hierdie fasiliteite is nou ten volle beskikbaar vir opnames.
Meer as 500 vrywilligers van Australië en Nieu-Seeland het gehelp met die konstruksie van die geskiedkundig akkurate filmstelle wat meer as 7 000 vierkante meter groot is. Broer Russell Grygorcewicz, die koördineerder van die Konstruksiekomitee, sê oor die konstruksie: “Hoewel ons baie uitdagings ondervind het, het ons duidelike bewyse gesien van hoe Jehovah ons gehelp het om dit te oorkom. Ons het sonder twyfel dit alles met Jehovah se gees bereik.”
Broer Ronald Curzan, ’n helper van die Onderrigtingskomitee, was daar toe baie van die eerste fase opgeneem is. Hy het gesê: “Die samewerking en die liefde onder die konstruksievrywilligers en die Bethelgesin is buitengewoon. Dit is opwindend om te sien hoe die stelle ná jare se beplanning en konstruksie ten volle gebruik word. Die oorweldigende ondersteuning deur die broers en susters regoor die takkantoor se gebied is hartverblydend. Hierdie videoreeks met 18 episodes wat Jesus se lewe en leringe uitbeeld, sal sonder twyfel die harte van mense regoor die aarde raak.”
Broer Kenneth Cook van die Bestuursliggaam was daar vir die laaste dae toe die eerste fase van Episode 1 opgeneem is. Hy het gesê: “Dit is duidelik dat ons liefdevolle Vader Jehovah hierdie projek ondersteun. Ons sê dankie vir Jehovah en almal wat betrokke was by die konstruksie van die stelle en die opnames vir hulle selfopofferende gees en liefdevolle werk. Ons bid dat hierdie spesiale videoreeks baie mense sal help om Jesus meer noukeurig na te volg en nader aan Jehovah te kom.”
Die ingang van die geskiedkundige stel
’n Lugfoto van ’n deel van die voltooide geskiedkundige stel
’n Skaapkraal (in die voorgrond) buite die geskiedkundige stel
Die markplein
Die regeringsgeboue