Spring na inhoud

Broer Royal Karimof en Seimoer Mammadof van Azerbeidjan

4 JANUARIE 2023
AZERBEIDJAN

Broer Royal Karimof en Seimoer Mammadof vrygelaat uit aanhouding in Azerbeidjan

Broer Royal Karimof en Seimoer Mammadof vrygelaat uit aanhouding in Azerbeidjan

Broer Royal Karimof en Seimoer Mammadof is vrygelaat uit aanhouding in Azerbeidjan. Albei broers het geweier om militêre diens te doen as gevolg van gewetensbeswaar.

Soos voorheen genoem is, het ’n hof in Azerbeidjan Seimoer se versoek om alternatiewe burgerlike diens te doen, geweier. Hy is op 22 September 2022 skuldig bevind en tot nege maande tronkstraf gevonnis. Die uitspraak was direk in stryd met twee beslissings deur die Europese Hof van Menseregte in ’n saak teen Azerbeidjan. Seimoer se regsgeleerdes het teen die uitspraak geappelleer, en op 12 Desember 2022 het die Ganja-appèlhof beslis om die vonnis te verander van tronkstraf na ’n opgeskorte vonnis. Hoewel Seimoer nou vry is, is hy besig om by die Hooggeregshof van Azerbeidjan te appelleer om die onregverdige uitspraak en vonnis te verander.

Seimoer was nie toegelaat om ’n Bybel te hê of om briewe te ontvang terwyl hy in die tronk was nie, maar Jehovah het hom ondersteun. Hy verduidelik: “Die dag voor my laaste verhoor het ek die woorde in Josua 1:5, 6 op ’n stukkie papier geskryf. Dit sê: ‘Net soos ek met Moses was, sal ek met jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie.’” Hierdie woorde het Seimoer versterk nadat hy gearresteer en tronk toe geneem is. Hy sê: “Hierdie verse het my dagteks geword.”

Op 30 Mei 2022 het die owerhede Royal na die Gadabai-streek se Staatsdiens vir Mobilisasie en Diensplig opgeroep. Royal het geweier om militêre diens te doen as gevolg van gewetensbeswaar en het gevra om alternatiewe burgerlike diens te doen. Sy versoek was geweier. Op 25 Julie 2022 het die militêre owerheid hom gearresteer en hom tot 1 November 2022 in die militêre tronk aangehou, wat teen die wet was. Royal vra dat die optrede van die Gadabai-streek se Staatsdiens vir Mobilisasie en Diensplig deur die gepaste owerhede ondersoek moet word.

Royal vertel: “Toe hulle vir my gesê het dat ek nie van die militêre tronk vrygelaat sal word nie, het ek aaklig gevoel. Maar ek het probeer onthou dat dit ’n toets van my geloof was.”

Terwyl Royal in aanhouding was, was sy suster toegelaat om hom te besoek. Sy kon vir hom ’n Bybel gee, en Royal verduidelik dat dit hom gehelp het om sy geloof sterk te hou. “Daar was tye wat ek baie mismoedig was. Maar dit was in daardie tye wat Jehovah my versterk het. Om die Bybel te lees en tot Jehovah te bid, het my ongelooflike vrede gegee.”

Ons hou aan bid dat die owerhede in Azerbeidjan sal ophou om ons broers in die tronk te sit as gevolg van gewetensbeswaar. Ons bid dat hulle eerder regte alternatiewe burgerlike diens moet aanbied soos baie ander lande doen. – 1 Timoteus 2:1, 2.