Spring na inhoud

Party van ons broers en susters wat in aanhouding gesit is in Azerbeidjan in 2010. Die EHMR het beslis dat hulle godsdiensvryheid geskend is

27 FEBRUARIE 2020
AZERBEIDJAN

EHMR-oorwinning in sake in Azerbeidjan

EHMR-oorwinning in sake in Azerbeidjan

Die Europese Hof van Menseregte (EHMR) het twee oorwinnings aan Jehovah se Getuies toegeken in sake wat te doen het met godsdiensvryheid in Azerbeidjan. Ons hoop dat hierdie uitsprake deur die EHMR ’n vaste grondslag vir ons broers se vryheid van aanbidding regdeur die land sal gee.

Op 20 Februarie 2020 het die Hof sy uitspraak gelewer in die saak Nasirov and Others v. Azerbaijan, wat al in 2010 na die EHMR gestuur is, asook die saak Religious Community of Jehovah’s Witnesses v. Azerbaijan, wat al in 2009 gestuur is. In Nasirov het die hof beslis dat Azerbeidjan Artikel 5 en 9 (Vryheid van Persoon en Godsdiensvryheid) van die Europese Konvensie oor Menseregte oortree het toe Azerbeidjan in 2010 Jehovah se Getuies herhaaldelik in aanhouding gesit, skuldig bevind en beboet het omdat hulle die predikingswerk gedoen het. Die Hof het Azerbeidjan beveel om meer as R53 000 te betaal om elke Getuie te vergoed vir die onregverdige behandeling. Altesaam het hulle meer as R373 000 betaal. In die saak Religious Community of Jehovah’s Witnesses het die hof beslis dat Azerbeidjan Artikel 10 (Vryheid van Spraak) van die Konvensie oortree het toe Azerbeidjan gekeer het dat ons broers party van ons publikasies invoer en versprei.

Jason Wise, een van die regsgeleerdes wat aan die sake gewerk het, verduidelik: “Vir baie jare was dit vir Jehovah se Getuies in Azerbeidjan baie moeilik om godsdienslektuur in te voer en te versprei. Ons het baie hofsake gemaak sodat ons toegelaat kon word om ons lektuur in te voer. En ons het selfs meer hofsake gemaak omdat die regering Getuies gearresteer het wat aan die openbare bediening deelgeneem het. Die EHMR se twee uitsprake is belangrik vir Jehovah se Getuies in Azerbeidjan. In die saak Religious Community of Jehovah’s Witnesses het die Hof beslis dat die godsdienslektuur van Jehovah se Getuies nie enige probleme vir ander godsdienste in Azerbeidjan veroorsaak of enige ander slegte gevolge het nie. In die saak Nasirov het die Hof bevestig dat Getuies die reg het om godsdienslektuur in openbare plekke aan mense te gee wat nie Jehovah se Getuies is nie. Ons is bly dat die Hof vryheid van godsdiens en spraak in Azerbeidjan beskerm het.”

Broer Famil Nasirov sê: “In die verlede het ons deur baie moeilike tye in ons land gegaan. Dit was algemeen om deur die polisie in aanhouding gesit te word en dan vir 4-5 ure ondervra te word. Maar met Jehovah se ondersteuning en die harde werk van ons liewe broers word ons nie meer in aanhouding gesit of ondervra nie en kan ons nou meer vryelik preek.”

Selfs voor hierdie uitsprake deur die EHMR het ons broers meer godsdiensvryheid geniet in Azerbeidjan. Die regering het ons broers toegelaat om ons lektuur in te voer en te versprei. Nie een van ons broers is sedert Januarie 2017 ’n boete gegee omdat hulle vergaderinge bygewoon het nie. Vergaderinge word op die oomblik in drie Koninkryksale in Bakoe gehou, asook in privaat huise regoor die land. Die Staatskomitee vir Godsdiensverenigings is die regering se agentskap wat in beheer is van die registrasie en regulasie van godsdienste in Azerbeidjan. Sedert 2015 het hulle toegelaat dat die Godsdiensgemeenskap van Jehovah se Getuies die Herdenking van Christus se dood, streekbyeenkomste en byeenkomste in gehuurde plekke kan hou.

Ons is dankbaar teenoor Jehovah vir hierdie gunstige uitsprake, en ons sê ook dankie dat hy aanhou om ons broers en susters in Azerbeidjan te ondersteun. – Psalm 98:1.