Spring na inhoud

29 SEPTEMBER 2020
AZERBEIDJAN

Europese Hof van Menseregte lewer twee uitsprake ten gunste van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan

Europese Hof van Menseregte lewer twee uitsprake ten gunste van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan

Op 24 September 2020 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) twee belangrike uitsprake ten gunste van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan gelewer. Die eerste uitspraak hou verband met die saak Valiyev and Others v. Azerbaijan, en die tweede uitspraak hou verband met die saak Religious Community of Jehovah’s Witnesses v. Azerbaijan. Hierdie uitsprake help beskerm ons broers se reg om hulle godsdiens vryelik te beoefen.

In albei sake het Azerbeidjan ’n verklaring gemaak waarin hulle erken dat hulle ons broers se wetlike reg geskend het. Die regering het ook ingestem om die broers altesaam 19 000 euro (amper R370 000) as skadevergoeding te gee. Die EHMR se uitsprake wys dat hulle Azerbeidjan se verklaring aanvaar.

Broer Walijew hou ’n vergadering in ’n privaat huis

Valiyev and Others v. Azerbaijan, wat in 2011 by die EHMR ingedien is, het te doen gehad met ons broers in die stad Ganja. Die owerheid in Ganja het jare lank geweier om ons organisasie wetlik te registreer. As gevolg hiervan het die polisie gereeld ons vreedsame godsdiensvergaderinge onderbreek, almal wat teenwoordig was, gearresteer en groot boetes vir party gegee. Een broer is herhaaldelik skuldig bevind en beboet. Hy het uiteindelik altesaam 9 450 Azerbeidjanse manat (amper R190 000 op daardie stadium) betaal. Party broers en susters is selfs gearresteer omdat hulle nie die buitensporige boetes kon bekostig nie.

In 2013 het die broers die tweede saak, Religious Community of Jehovah’s Witnesses v. Azerbaijan, by die EHMR ingedien omdat Azerbeidjan die hoeveelheid lektuur wat hulle kan invoer, beperk het.

Al het die owerheid in Ganja nog steeds nie Jehovah se Getuies wetlik geregistreer nie, het die situasie baie beter geword. In onlangse jare het ons broers vergaderinge gehou in kleiner groepe en in privaat huise sonder dat die polisie hulle onderbreek het. Hoewel lektuur deur die regering hersien moet word voordat dit ingevoer kan word, laat die regering ook toe dat ons broers genoeg lektuur invoer.

Broer Kiril Stepanow, wat saam met die Openbare Inligtingsafdeling vir Jehovah se Getuies in Azerbeidjan werk, sê: “Ons hoop dat hierdie belangrike uitsprake deur die EHMR die proses sal bespoedig om registrasie in Ganja en ander stede in Azerbeidjan te kry. Ons hoop dat die regering mettertyd sal ophou om ons lektuur te hersien voordat dit ingevoer word.”

Ons is dankbaar teenoor Jehovah vir sy ondersteuning. Hierdie gunstige regsuitsprake gee verdere bewys dat ‘geen wapen wat gemaak word om God se volk aan te val, enige sukses sal hê nie’. – Jesaja 54:17.