24 DESEMBER 2020
AZERBEIDJAN
Onlangse besluite deur die EHMR ondersteun godsdiensvryheid in Azerbeidjan
In Oktober en November 2020 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ’n hele paar uitsprake ten gunste van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan gelewer. Die sake is Gridneva v. Azerbaijan, Sheveli and Shengelaya v. Azerbaijan, Jafarov v. Azerbaijan en Tagiyev v. Azerbaijan. Hierdie EHMR-uitsprake help om ons broers se reg te beskerm om te preek, hulle godsdiens vryelik te beoefen en om lektuur na Azerbeidjan in te voer.
Die sake is in 2011 en 2012 by die Hof ingedien. Gridneva v. Azerbaijan en Sheveli and Shengelaya v. Azerbaijan gaan oor gebeure waar die polisie gemeentelike vergaderinge ontwrig of met ons predikingsaktiwiteite ingemeng het. Jafarov v. Azerbaijan en Tagiyev v. Azerbaijan gaan oor gevalle waar die regering die invoer van ’n hele paar van ons publikasies geweier of beperk het.
Dit is interessant dat Azerbeidjan in drie van die vier gevalle (Gridneva v. Azerbaijan, Jafarov v. Azerbaijan en Tagiyev v. Azerbaijan) erken het dat hulle ons broers se wetlike reg geskend het en ingestem het om altesaam 10 500 euro (R193 644,49) as skadevergoeding te betaal
In die hofsaak Sheveli and Shengelaya v. Azerbaijan, oor ’n egpaar in die kringwerk wat onwettig gearresteer en gedeporteer is, het die EHMR Azerbeidjan beveel om 3 000 euro (R55 327,00) aan die egpaar te betaal.
Die EHMR het die besluit so verduidelik: “Die feit dat [die egpaar] gestraf is omdat hulle gebid het of hulle godsdiens beoefen het, stem [nie] ooreen met die [Europese] Konvensie [oor Menseregte] nie. Om die teenoorgestelde te sê sal beteken dat minderheidsgodsdienste wat nie formeel by die Staat geregistreer is nie, uitgesluit sal word, en dit sal dan wees asof die Staat vir ’n persoon kan voorskryf wat hy moet glo.”
In onlangse jare het die owerhede in Azerbeidjan meer gunstig teenoor Jehovah se Getuies opgetree en hulle regte erken. Ons is dankbaar vir die bykomende ondersteuning van ons broers se godsdiensvryheid deur hierdie onlangse EHMR-besluite. Ons is veral dankbaar teenoor Jehovah God, “ons skuilplek en sterkte”. – Psalm 46:1.