5 JANUARIE 2021
AZERBEIDJAN
VN se Menseregtekomitee beslis ten gunste van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan
Op 15 Desember 2020 het die VN se Menseregtekomitee twee belangrike beslissings ten gunste van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan gegee. Die sake was Rahima Huseynova v. Azerbaijan; en Saladdin Mammadov, Rashad Niftaliyev and Sadagat Abbasova v. Azerbaijan. In albei sake het die Komitee beslis dat die Staat die regte van Jehovah se Getuies geskend het en gevra dat Azerbeidjan hulle wette verander sodat hulle nie weer hierdie regte in die toekoms sal skend nie.
Die saak Rahima Huseynova v. Azerbaijan is gemaak omdat die polisie in Bakoe in Desember 2014 suster Rahima Hoeseinowa in die tronk gesit het omdat sy met ander oor haar geloof gepraat het. Daarna het ’n distrikshof haar met amper R13 900 beboet omdat Jehovah se Getuies nog nie op daardie stadium ’n geregistreerde godsdiens in Bakoe was nie. a Toe suster Rahima Hoeseinowa die beslissing geappelleer het, het die Bakoe-appèlhof by die oorspronklike beslissing gebly. Sy het toe besluit om die saak na ’n internasionale hof te neem.
Die VN se Menseregtekomitee het beslis dat die Staat Artikel 18(1) van die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (CCPR) geskend het. Die Komitee het vereis dat Azerbeidjan haar finansieel moet vergoed. Dit is interessant dat toe die Komitee se beslissing uitgegee is, hulle gesê het dat Azerbeidjan ook “moet doen wat nodig is sodat hierdie soort skending van iemand se regte nie weer in die toekoms sal gebeur nie. Dit beteken dat Azerbeidjan dalk hulle wette en/of gebruike moet verander sodat hulle die regte soos dit in artikel 18 van die [CCPR] uiteengesit word, kan beskerm en respekteer.”
Die saak Saladdin Mammadov, Rashad Niftaliyev and Sadagat Abbasova v. Azerbaijan gaan oor ’n groep broers en susters in Ganja wat bymekaargekom het om die Bybel in die huis van broer Saladdin Mammadof te studeer. In Oktober 2014 het die polisie die klein vergadering opgebreek en die huis deursoek, en Bybels en ander items afgevat. Broer Mammadof, broer Rasjad Niftalijef en suster Sadagat Abbasowa is na die polisiestasie geneem en meer as ses uur lank aangehou. Twee dae later is hulle beveel om voor die Nizami-distrikshof in die stad Ganja te verskyn. Die hof het beslis dat die vergadering onwettig was omdat die mense wat die vergadering bygewoon het, aan ’n godsdiens behoort het wat nie in Ganja geregistreer is nie. Die hof het die Getuies elk met meer as R18 500 beboet. Die broers en suster het by die Ganja-appèlhof geappelleer. Ongelukkig het die appèlhof by die distrikshof se beslissing gebly. Hulle het toe by die VN se Menseregtekomitee geappelleer.
Die Komitee het beslis dat Azerbeidjan ’n hele paar CCPR-artikels geskend het en dat hulle die drie Getuies finansieel moet vergoed. Dit is belangrik dat die Komitee in sy beslissing gesê het dat “die Distrikshof nie verduidelik het hoekom dit vir die broers nodig was om eers by die Regering te registreer voordat hulle hulle godsdiens saam in ’n privaat huis kon beoefen nie”. Dit bevestig dat ons broers in Azerbeidjan die reg het om bymekaar te kom vir aanbidding sonder om wetlik geregistreer te word.
Net soos in die Rahima Huseynova-saak het die Komitee ook gevra dat Azerbeidjan seker maak dat sy “wette, regulasies en/of gebruike” ooreenstem met die regte wat onder die CCPR gewaarborg word.
Gelukkig het die situasie in Azerbeidjan verbeter en die owerhede het in onlangse jare nie meer die broers se reg om te aanbid, geskend nie. Ons hoop dat hierdie twee beslissings die goeie nuus in Azerbeidjan sal verdedig en wetlik bevestig. – Filippense 1:7.
a In November 2018 het Azerbeidjan Jehovah se Getuies ten volle in Bakoe wetlik geregistreer.