Spring na inhoud

4 FEBRUARIE 2022
AZERBEIDJAN

VN se Menseregtekomitee bevestig die reg van susters wat in Azerbeidjan gearresteer is omdat hulle gepreek het

VN se Menseregtekomitee bevestig die reg van susters wat in Azerbeidjan gearresteer is omdat hulle gepreek het

Die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee (CCPR) het in November en Desember 2021 twee uitsprake gelewer wat die regte bevestig het van Jehovah se Getuies om hulle geloof bekend te maak. Albei besluite was oor susters wat deur die owerhede in Azerbeidjan gearresteer is omdat hulle die Bybel se boodskap met ander gedeel het.

Op 5 November 2021 het die CCPR die regte bevestig van susters Matanat Goerbanowa en Saadat Moeradhasilowa om te preek. Die susters is gearresteer nadat die owerhede in November 2014 ’n naamlose klagte ontvang het. Die susters het elk ’n boete van R13 609,24 gekry. Die CCPR se uitspraak was dat die arrestasie onwettig was, en hulle het geëis dat Azerbeidjan moet sorg dat iets soortgelyks nie weer in die toekoms gebeur nie.

Matanat en Saadat, wat ook vleeslike susters is, het gesê: “Al wou die polisiemanne en die regter ons intimideer, het dit wat gebeur het net ons geloof versterk. Jehovah het weer bewys dat sy hand nooit te kort is nie en dat hy weet wanneer en hoe om sy knegte te beskerm.”

In ’n soortgelyke uitspraak op 21 Desember 2021 het die CCPR bepaal dat polisiebeamptes in Azerbeidjan die wet oortree het toe hulle susters Djeiran Azizowa en Goelnaz Israfilowa in aanhouding geplaas het omdat hulle “aan godsdiensaktiwiteite buite hulle wettige adres deelgeneem het”. Tydens hulle besluit het die CCPR bevestig dat die susters niks onwettigs gedoen het toe hulle met ander oor hulle geloof gepraat het nie.

Terwyl Djeiran en Goelnaz in November 2016 by vriende in die Goranboi-streek van Azerbeidjan gekuier het, het hulle die Bybel se boodskap met ander gedeel. ’n Plaaslike beampte het by die polisie gaan kla, en die susters is gearresteer. By die verhoor wat daarop gevolg het, het ’n regter die susters daarvan beskuldig dat hulle spioene is en hulle met R18 186,90 beboet. Die uitspraak is deur ’n appèlhof bevestig. Die susters het toe by die CCPR appèl aangeteken.

Positiewe wettige besluite help ons om vryelik besig te bly met ons belangrikste aktiwiteit. Ons is bly saam met ons susters wat ’n goeie voorbeeld gestel het deur die goeie nuus moedig te verkondig. – Matteus 10:18.