Spring na inhoud

Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa in Bakoe

11 DESEMBER 2017
AZERBEIDJAN

Hof in Azerbeidjan vergoed Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa

Hof in Azerbeidjan vergoed Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa

Op 4 Augustus 2017 het ’n streekhof in Bakoe, Azerbeidjan, Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa vergoed omdat hulle 11 maande lank onregverdig opgesluit is. Hierdie vroue is albei Jehovah se Getuies. Die geld wat hulle gekry het, sal nie kan vergoed vir die slegte behandeling wat hulle moes deurmaak nie. Maar die hof se beslissing het erken dat die Staat hulle sonder enige rede skuldig bevind het. Dit het emosionele en fisiese pyn veroorsaak, en hulle goeie reputasie het daaronder gelei.

Beslissing deur Hooggeregshof lei tot skadevergoeding

Op 8 Februarie 2017 het die Hooggeregshof in Azerbeidjan me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa vrygespreek. Hulle was daarvan beskuldig dat hulle godsdienslektuur sonder die Staat se toestemming versprei het. Die Hof het bevind dat die brosjure Leer jou kinders goedgekeur is om ingevoer te word en nie skadelik vir die gemeenskap is nie. Die Hof het ook gesê dat die vroue die basiese reg gehad het om met ander oor hulle geloof te praat. Die Hooggeregshof het sy beslissing gegrond op die regte wat deur die Grondwet van Azerbeidjan gewaarborg word asook op Azerbeidjan se internasionale ooreenkomste.

Die Hooggeregshof het die vergoeding oorgelaat aan die siviele hof. Daarna het me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa ’n klag gelê by die Nasimi-streekhof in die stad Bakoe. Hulle wou hê dat die Departement van Finansies hulle moet vergoed omdat hulle sleg behandel is deur die Staatsveiligheidsdiens (en sy voorganger, die Departement van Nasionale Sekuriteit). Albei vroue was in die hof teenwoordig, al was me. Zachartjenko nie gesond nie. Regter Sjahin Abdoellajef het hulle toegelaat om kortliks te vertel watter slegte dinge met hulle gebeur het.

Streekhof erken mishandeling

Die beslissing deur die streekhof het die verpligting van Azerbeidjan weer bevestig om die basiese regte van hulle burgers te respekteer en het gedeeltelik aan die eise van die Getuies voldoen. Omdat me. Zachartjenko so sleg behandel is, het haar gesondheid baie daaronder gelei en is sy met ongeveer R70 000 ($5,737 U.S.) vergoed. En me. Jabrajilowa, wat jonger is as me. Zachartjenko, het ongeveer R60 000 ($4,828 U.S.) ontvang. Die beslissing het gesê: “Die Hof glo dat die onwettige aanhouding en ongegronde kriminele vervolging emosionele skade veroorsaak het.”

Die Departement van Finansies het die beslissing om die twee Getuievroue te vergoed, geappelleer. Op 20 November 2017 het die Appèlhof van Bakoe die Departement se appèl verwerp en nie die streekhof se beslissing verander nie.

Sal die Hof se beslissings ’n positiewe uitwerking hê?

Jehovah se Getuies in Azerbeidjan het aangehou met hulle aanbidding al is hulle basiese reg om hulle godsdiens vryelik te beoefen, ernstig geskend en hulle veiligheid in gevaar gestel. Hulle word nog steeds geteister, beboet en sleg behandel wanneer hulle bymekaarkom vir aanbidding en wanneer hulle op ’n vreedsame manier met hulle godsdiensbedrywighede besig is. Die regering het nog nie alternatiewe burgerlike diens in plek gestel vir dié wat as gevolg van gewetensbeswaar weier om militêre diens te doen nie. Die owerheid het die Getuies nie toegelaat om wetlik te registreer op plekke buite Bakoe nie. Daar is op die oomblik 18 aansoeke by die Europese Hof van Menseregte en 11 klagtes by die VN se Menseregtekomitee in verband met die regering se mishandeling van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan.

Jehovah se Getuies reg oor die wêreld hoop dat die onlangse hofbeslissings amptenare sal aanmoedig om respek te hê vir die regte van Getuies in Azerbeidjan.