Spring na inhoud

23 MAART 2015
AZERBEIDJAN

Toenemende godsdiensonverdraagsaamheid in Azerbeidjan

Toenemende godsdiensonverdraagsaamheid in Azerbeidjan

Godsdiensonverdraagsaamheid in Azerbeidjan raak al hoe erger. Wetstoepassingsowerhede lê Jehovah se Getuies swaar boetes op en sit hulle in die tronk. Owerhede is besig om die Getuies strafregtelik te vervolg omdat hulle bymekaarkom vir aanbidding en met ander oor hulle oortuigings praat.

Godsdiensbedrywighede word as ’n misdaad beskou

Op 5 Desember 2014 het twee van Jehovah se Getuies—Irina Zachartjenko, ’n 55-jarige weduwee wat gedeeltelik gestremd is, en die 38-jarige Walida Jabrajilowa, wat die vernaamste versorger van haar ma is—met die inwoners van ’n woonstelgebou in Bakoe oor hulle geloof gepraat. Die twee vroue het die brosjure Leer jou kinders gratis aangebied, wat ontwerp is om ouers te help om hulle kinders Bybelverhale en -lesse te leer. *

’n Ondersoekbeampte van die polisie het hulle daarvan beskuldig dat hulle Bybellektuur sonder “die nodige toestemming” versprei het. Die vroue is spesifiek daarvan aangekla dat hulle ’n misdaad gepleeg het as ’n georganiseerde groep, wat strafbaar is met ’n swaar boete van 7 000 tot 9 000 manat (R80 000 tot R103 000) * of twee tot vyf jaar tronkstraf.

Gedurende die ondersoek het die ondersoekbeampte en die Departement van Nasionale Sekuriteit (MNS) die vroue herhaaldelik vir ondervraging laat kom. Toe die vroue op 17 Februarie 2015 weer eens voor die MNS verskyn het vir ondervraging, is hulle tot hulle verbasing in ’n geslote verhoor voor die Sabail-distrikshof in Bakoe aangekla.

Nadat die ondersoekbeampte van die MNS kriminele aanklagte voorgelê het, het hy ’n mosie ingedien om die vroue te laat opsluit voordat hulle verhoor word omdat hy oortuig was dat die vroue waarskynlik weer dieselfde oortreding sou begaan en sou “ontsnap en ’n ondersoek probeer ontwyk”. Die vroue se regsverteenwoordiger het daarteen beswaar gemaak en aangevoer dat die opsluiting ongeregverdig is met die oog op die omstandighede en die vroue se samewerking met die owerhede. Hoewel die regter opgemerk het dat die vroue nog nooit aan ’n misdaad skuldig bevind is nie, het hy hulle bedrywighede beskryf as ’n “bedreiging vir die publiek” en die ondersoekbeampte se mosie aangeneem dat die vroue drie maande lank opgesluit moet word in die tronk wat onder die toesig van die geheime polisie is.

Die vroue se regsverteenwoordiger het die beslissing geappelleer, en op 26 Februarie 2015 het die polisie hulle in boeie van die tronk na die Bakoe-appèlhof geneem in ’n voertuig met getinte ruite. In die geslote verhoor wat daarop gevolg het, kon die aanklaer en die ondersoekbeampte van die MNS glad nie bewys dat dit nodig was om die vroue voor die verhoor op te sluit nie. Nogtans het die hof die appèl geweier, en me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa is weer tronk toe geneem.

Op 6 Maart 2015 het twee groepe van die MNS lasbriewe verkry en die huise van me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa deursoek en beslag gelê op hulle godsdienslektuur, persoonlike notaboeke, ’n rekenaar en ’n selfoon. Op 10 Maart 2015 het die MNS, die Staatskomitee vir Godsdiensverenigings en die polisie lasbriewe voorgelê om die Koninkryksaal (huis van aanbidding) en die huis van een van die gemeentelike ouer manne te deursoek. Die MNS het ook ’n aantal Getuies in Bakoe voor die hof gedaag om in hierdie saak ondervra te word.

In reaksie op die opsluiting van me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa het Jehovah se Getuies ’n brief geskryf om die VN se Spesiale Referent in verband met vryheid van godsdiens of oortuiging en die Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting te vra om in te gryp. ’n Plaaslike regsverteenwoordiger stel ’n mosie in die verhoorhof saam om die vroue se opsluiting voor hulle verhoor met huisarres te vervang.

Swaar boetes en tronkstrawwe vir die bywoning van godsdiensvergaderinge

In Ganja het die owerheid diegene wat godsdiensvergaderinge van die Getuies bygewoon het, swaar boetes opgelê en party van hulle opgesluit. Boetes het gewissel tussen 1 500 manat (R17 000) en 2 000 manat (R24 000).

In Oktober 2014 het howe in Ganja drie Getuies en ’n man wat hulle godsdiensvergaderinge bywoon, opgesluit vir versuim om die boetes te betaal wat hulle opgelê is omdat hulle vir aanbidding bymekaargekom het. Hoewel hulle die boetes gedeeltelik betaal het, het die owerheid elkeen van hulle ’n tronkstraf van 3 tot 20 dae opgelê.

Die man wat saam met die Getuies aanbid, sê: “Vir my is 1 500 manat (R17 000) baie geld. . . . My eerste reaksie was om nie die boete te betaal nie, want ek beskou myself as onskuldig.” Twee Getuiemans het hulle straf ook as onregverdig beskou en het vertel dat die owerheid hulle soos misdadigers behandel het.

Die derde Getuie wat opgesluit is, ’n vrou, sê: “Niemand het in ag geneem dat my familie in ’n baie moeilike finansiële situasie is, dat ek my gestremde ma versorg, wat niks vir haarself kan doen nie, en dat ek vrywillig die boete begin betaal het nie.”

Al vier het hulle tronkstrawwe uitgedien, maar die hof dring nog steeds daarop aan dat hulle die hele boete betaal. As hulle nie voldoen aan die hof se vereiste om die boetes teen ’n sekere tyd te betaal nie, sal die hof dalk weer beveel dat hulle opgesluit word.

Sal Azerbeidjan reg laat geskied?

Amptenare in Azerbeidjan gebruik verskeie metodes om die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies te belemmer. Jehovah se Getuies het 19 aansoeke in verband met onverdraagsaamheid teen Azerbeidjan by die Europese Hof van Menseregte ingedien wat nog oorweeg moet word. Intussen hoop die Getuies dat Azerbeidjan se hoë owerhede reg sal laat geskied deur iets te doen omtrent die wederregtelike opsluiting van me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa. Deur hierdie en ander dade van godsdiensonverdraagsaamheid reg te stel, kan Azerbeidjan respek toon vir sy burgers en sy grondwet en toon dat dit fundamentele menseregte handhaaf.

^ par. 4 Die Staatskomitee vir Godsdiensverenigings van die Republiek van Azerbeidjan het toestemming gegee vir die invoering van hierdie brosjure, wat op 11 Augustus 2014 deur Jehovah se Getuies vrygestel is.

^ par. 5 In Augustus 2014 was die gemiddelde maandelikse inkomste in Azerbeidjan na raming 440 manat (R5 000).