Spring na inhoud

26 MEI 2014
AZERBEIDJAN

Jehovah se Getuies in Azerbeidjan wend hulle tot die Europese Hof van Menseregte vir geregtigheid

Jehovah se Getuies in Azerbeidjan wend hulle tot die Europese Hof van Menseregte vir geregtigheid

Op ’n Sondagoggend in ’n kamer in Bakoe, Azerbeidjan, het ongeveer 200 mans, vroue en kinders na ’n Bybeltoespraak geluister.

Die polisie het die deur oopgebreek, en toe het nog amptenare en ’n span met TV-kameras en verblindende ligte daar ingestorm. Die polisie het nie net die godsdiensvergadering van Jehovah se Getuies onderbreek nie, maar het ook baie van die mans geslaan, die perseel sonder ’n lasbrief deursoek, diegene verbaal mishandel wat die vergadering bygewoon het en beslag gelê op geld, rekenaars en die gemeente se Bybellektuur. Die polisie het baie Getuies polisiestasie toe geneem en hulle ure lank daar aangehou. Ses uitlanders wat daar as bedienaars gedien het, is vir etlike dae aangehou en toe gedeporteer. Die televisie-uitsending van die klopjag het die Getuies in ’n slegte lig gestel.

Na aanleiding van hierdie gebeurtenisse op 24 Desember 2006 het Jehovah se Getuies hulle eerste aansoek teen Azerbeidjan by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ingedien. Sedertdien het die Getuies 18 bykomende aansoeke by die EHMR ingedien weens skendings van hulle godsdiensvryheid.

REDE VIR AANSOEK

TOTAAL

Polisieklopjag

5

Herregistrasie

1

Reg om godsdiensoortuiging te beoefen

2

Sensorskap

5

Deportasie

3

Gewetensbeswaar

3

Totaal

19

Aansoeke wat tot en met 31 Januarie 2014 by die EHMR teen Azerbeidjan ingedien is

Die volgende voorbeelde vestig die aandag op party van die probleme waarmee Jehovah se Getuies in Azerbeidjan te kampe het en wat daartoe aanleiding gegee het dat hulle hulle tot die EHMR vir geregtigheid gewend het.

  • Weiering van herregistrasie

    Die godsdiensgemeenskap van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan is vir die eerste keer op 22 Desember 1999 in Bakoe geregistreer en is op 7 Februarie 2002 by die Staatskomitee vir Godsdiensverenigings (SKGV) geherregistreer. In 2009 het die regering van Azerbeidjan sy Wet op vryheid van godsdiensoortuiging gewysig en vereis dat alle godsdiensgemeenskappe herregistreer. Die godsdiensgemeenskap van Jehovah se Getuies het ’n aansoek om herregistrasie ingedien, maar die SKGV het dit van die hand gewys weens ’n tegniese punt. Hoewel die regering nie die registrasie van 2002 ongeldig verklaar het nie, weier dit om die Getuies onder die nuwe bepalings van die godsdienswet te herregistreer.

  • Teistering en vervolging deur die polisie

    Jehovah se Getuies kom elke week in huise vir hulle godsdiensvergaderinge bymekaar. Die polisie het by etlike geleenthede hierdie huise sonder magtiging binnegedring en die vergaderinge onderbreek. Hulle het die mense wat daar was, sleg behandel, hulle ure lank by die polisiestasie aangehou en het beslag gelê op persoonlike godsdienslektuur wat vir aanbidding gebruik word. Party Getuies is swaar boetes opgelê. In 2011 is ses Getuies in Gandja aangekla en ’n boete van ongeveer R120 000 opgelê omdat hulle ’n godsdiensvergadering bygewoon het wat nie deur die regering gemagtig is nie. Die mees onlangse polisieklopjagte is op 11 Januarie en 2 Maart 2014 uitgevoer.

  • Sensuur op lektuur

    Azerbeidjan is die enigste lidland van die Europese Raad * wat verpligte sensuur op godsdienslektuur ingestel het, maar dit is teenstrydig met die grondwet van die land. * Die regering kan beperk hoeveel Bybellektuur die Getuies invoer uit ander lidlande van die Europese Raad of die lektuur ná sensorskap verbied. Talle nommers van Die Wagtoring, die Getuies se halfmaandelikse godsdienstydskrif, is van die publikasies wat verbied is. * Azerbeidjanse howe het die Getuies se aansoek teen die SKGV se sensorkap afgewys.

Internasionale opmerkings oor Azerbeidjan se behandeling van godsdiensgemeenskappe

’n Aantal internasionale menseregteorganisasies het Azerbeidjan se godsdienswet en sy behandeling van godsdiensgemeenskappe ondersoek en sterk kommentaar daarop gelewer.

  • Die jaarverslag vir 2013 van die Verenigde State se Internasionale Kommissie vir Godsdiensvryheid sê: “Hoewel die Azerbeidjanse regering beweer dat dit verdraagsaam is, het godsdiensvryheid afgeneem, veral nadat die beperkende godsdienswet in 2009 uitgevaardig is.”

  • ’n Verslag deur die Europese Kommissie teen Rassisme en Onverdraagsaamheid (EKRO) het groot kommer uitgespreek oor die beperkende toestande waarmee godsdiensgemeenskappe te kampe het. Aangaande die Azerbeidjanse godsdienswet sê dit: “EKRO beveel ten sterkste aan dat die Azerbeidjanse owerheid die wetgewing ... moet aanpas sodat dit voldoen aan die vereistes van die Europese Konvensie oor Menseregte.”

  • Die Venesiese Kommissie van die Europese Raad het spesifieke voorstelle gepubliseer oor hoe Azerbeidjan se Wet op vryheid van godsdiensoortuiging gewysig moet word. Dit het gesê: “Dit wil voorkom asof die Wet heelwat beperkende bepalings bevat wat in stryd is met internasionale standaarde. . . . Bepalings wat die fundamentele kwessies aanspreek soos die omvang van die wet en die begunstigdes van die reg op godsdiens- en gewetensvryheid, die registrasie, die selfbestuur en ontbinding van godsdiensgemeenskappe, die reg op gewetensbeswaar, die kwessie van proselitisme en die publisering en verspreiding van godsdiensmateriaal moet geherformuleer word.”

Regte wat hoog op prys gestel word

Jehovah se Getuies regoor die wêreld stel die fundamentele reg op vryheid van uitdrukking, vergadering, assosiasie, godsdiens en gewetensvryheid hoog op prys. Hulle is dankbaar teenoor regerings wat hulle hierdie regte gun. Die 2 500 Getuies en diegene wat saam met hulle in Azerbeidjan aanbid, hoop om dieselfde godsdiensvryheid te hê wat ander godsdienste in hulle land geniet.

^ par. 28 Azerbeidjan het op 25 Januarie 2001 ’n lidland van die Europese Raad geword.

^ par. 28 Artikel 48 beskerm godsdiensvryheid en Artikel 50 verbied mediasensorskap.

^ par. 28 Jehovah se Getuies druk elke maand ’n publieke uitgawe van Die Wagtoring, wat hulle versprei om aan mense te verduidelik wat die Bybel leer. In hulle gemeentes, gebruik hulle ’n studie-uitgawe as deel van hulle weeklikse Bybelstudieprogram. Die Wagtoring waarvan meer as 45 000 000 eksemplare van elke nommer in meer as 200 tale versprei word, is die tydskrif met die grootste verspreiding ter wêreld.