Spring na inhoud

8 MEI 2018
AZERBEIDJAN

Hooggeregshof van Azerbeidjan bevestig vergoeding vir Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa

Hooggeregshof van Azerbeidjan bevestig vergoeding vir Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa

Op 16 April 2018 het die Hooggeregshof van Azerbeidjan die beslissing van ’n laer hof bevestig. Die laer hof het beslis dat Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa vergoed moet word omdat hulle 11 maande lank onregverdig opgesluit is. Vroeër, in Februarie 2017, het die hooggeregshof hulle albei vrygespreek van die kriminele aanklag dat hulle godsdienslektuur versprei het sonder die Staat se toestemming. Maar die hooggeregshof het die saak van vergoeding oorgelaat aan die siviele hof.

Nadat me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa, wat Jehovah se Getuies is, van alle aanklagte teen hulle vrygespreek is, het hulle deur die siviele hof vergoeding probeer kry omdat hulle sleg behandel is. In Augustus 2017 het ’n streekhof beslis dat hulle vergoed moet word, maar die Departement van Finansies het die beslissing geappelleer. In November 2017 het ’n appèlhof die streekhof se beslissing bevestig. Die Departement van Finansies het die beslissing weer probeer betwis en in Februarie 2018 ’n klag by die hooggeregshof ingedien om die beslissing te hersien. Die hooggeregshof het die Departement van Finansies se appèl verwerp en sodoende die beslissing dat albei vroue vergoed moet word, bevestig.

Die hooggeregshof het nie net ’n mate van vergoeding aan me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa voorsien nie, maar ook die skade wat deur die amptenare aangedoen is erken. Hierdie amptenare het verder gegaan as wat hulle toegelaat is en het die regte van hierdie onskuldige vroue geskend.