Spring na inhoud

30 JULIE 2019
AZERBEIDJAN

’n Spesiale streekbyeenkoms word in Azerbeidjan gehou

’n Spesiale streekbyeenkoms word in Azerbeidjan gehou

Vanaf 26 tot 28 Julie 2019 het Jehovah se Getuies in Azerbeidjan hulle jaarlikse streekbyeenkoms by die Darnagul Ceremony House in die hoofstad Bakoe gehou. In hierdie jaar van internasionale byeenkomste is die streekbyeenkoms in Bakoe regtig spesiaal. Dit is die grootste openbare streekbyeenkoms wat nog ooit in Azerbeidjan gehou is. Dit is ook die eerste keer dat Azerbeidjanse en Russiese gemeentes in die hele land dieselfde streekbyeenkoms bywoon.

Al is daar net 1 500 verkondigers in Azerbeidjan, was die bywoningshoogtepunt vir die streekbyeenkoms 1 938. Altesaam is daar 33 gedoop. Broer Mark Sanderson het spesiale toegang tot die land gekry om toesprake by die streekbyeenkoms te gee. Dit is die eerste keer dat ’n lid van die Bestuursliggaam ’n toespraak by ’n streekbyeenkoms in Azerbeidjan gee. Ons is dankbaar teenoor die owerheid dat hulle hierdie toestemming gegee het.

Die eenheid van die broers en susters was ’n uitstekende getuienis. Die bestuurder van die byeenkomsplek het gesê dat hy vrede, liefde en vriendelikheid onder die Getuies gedurende hierdie byeenkoms gesien het en dat hulle regtig doen wat hulle ander mense leer.

Al word Jehovah se Getuies se godsdiensvryheid in Azerbeidjan nog steeds geskend, het die regering ons broers al hoe meer vryheid gegee om hulle geloof te beoefen. In November 2018 het Azerbeidjan Jehovah se Getuies volle wetlike registrasie in Bakoe toegestaan. Hierdie registrasie gee ons broers nou meer wetlike beskerming sodat hulle openlik in die stad kan aanbid.

Ons is saam met ons broers en susters in Azerbeidjan bly vir hierdie positiewe gebeure, insluitende hierdie onlangse spesiale geleentheid in hulle teokratiese geskiedenis. Ons bid dat Jehovah sal aanhou om die pogings te seën vir die “wetlike bevestiging van die goeie nuus” regdeur Azerbeidjan en wêreldwyd. – Filippense 1:7.