Spring na inhoud

Broers en susters neem deel aan verskillende vorme van die bediening in Botswana

19 FEBRUARIE 2024
BOTSWANA

Vyftig jaar van godsdiensvryheid in Botswana

Vyftig jaar van godsdiensvryheid in Botswana

Op 20 Februarie 2024 is dit 50 jaar vandat die regering in Botswana die werk van Jehovah se Getuies wetlik erken het. Voordat hierdie wetlike erkenning in 1974 gegee is, het ons broers en susters in Botswana op verskillende tye beperkings en ook ’n verbod op hulle teokratiese bedrywighede deurgemaak.

’n Foto van broers en susters by ’n kringbyeenkoms in Mahalapye, Botswana, in 1965

Die goeie nuus van die Koninkryk het in 1929 Botswana, of Betsjoeanaland soos dit destyds bekend gestaan het, vir die eerste keer bereik. Maar in 1941 was mense kwaad en bang as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog wat veroorsaak het dat die regering ons werk en die verspreiding van ons Bybelpublikasies verbied het. Nadat hierdie beperkings uiteindelik in 1959 gelig is, kon Jehovah se Getuies met minder uitdagings met hulle geestelike bedrywighede aangaan.

In 1972 is ’n nuwe wet uitgereik waar alle organisasies in Botswana by die regering moes registreer. Maar toe ons broers aan hierdie wet gehoorsaam wou wees, is hulle aansoek afgekeur en het die regering hulle net 20 dae gegee om met al hulle godsdiensbedrywighede op te hou. Die werk van Jehovah se Getuies is in Botswana verbied! Enige iemand wat aan die predikingswerk deelgeneem het of gemeentelike vergaderinge bygewoon het, kon tot sewe jaar tronkstraf kry. Maar ons broers en susters het aangehou om in die geheim bymekaar te kom. Byvoorbeeld, vergaderinge is soms in afgesonderde plekke in die bos gehou. Broer Tommy Maruping het oor daardie tyd gesê: “Ten spyte van die verbod was ons meer as ooit tevore vasbeslote om aan te hou met die predikingswerk en om saam te vergader. Ons het vertrou dat Jehovah met ons sal wees, en hy was altyd met ons.”

Mense wat die ‘Wees geduldig’!-streekbyeenkoms vir 2023 in Gaborone, Botswana, bywoon

Op 20 Februarie 1974 het die regering sy besluit verander, en Jehovah se Getuies was toegelaat om amptelik as ’n godsdiensorganisasie te registreer. Vandag is daar amper 2 400 verkondigers in 42 gemeentes in Botswana. Vergaderinge word op die oomblik in Botswana Gebaretaal, Engels, Kalanga (Botswana), Tswana en Shona gehou. Broer Hugh Cormican, wat in Botswana met sendingdiens begin het kort nadat die verbod gelig is, het gesê: “Ons broers en susters het aangehou om tot vandag toe geestelik te floreer. Om in die openbaar vir vergaderinge en byeenkomste bymekaar te kom, help ons om die ware eenheid van Jehovah se volk te ervaar.”

Die volharding van ons broers en susters in Botswana is nog ’n bewys dat Jehovah altyd die lojale pogings van sy knegte sal seën om “sy gebooie [te] gehoorsaam”. – 1 Johannes 5:3.