5 OKTOBER 2022
BRASILIË
JW.ORG se toeganklikheidsfunksies word by handelskou in Brasilië bevorder
Van 1 tot 4 September 2022 was Jehovah se Getuies genooi om deel te neem aan die Internasionale Handelskou oor Rehabilitasie, Insluiting en Toeganklikheid tot Tegnologie (Reatech) vir 2022 wat in São Paulo, Brasilië, gehou is. Reatech is die belangrikste uitstalling vir toeganklikheidstegnologie in Latyns-Amerika. Meer as 46 000 mense het die geleentheid hierdie jaar bygewoon.
Die skou het ’n stalletjie gehad waar ons broers en susters jw.org, die JW Library- en JW Library Sign Language-apps ten toon gestel het. Die stalletjie het ook interaktiewe elektroniese uitstallings gehad. Verkondigers wat blind is of wat nie goed kan sien nie, was ook daar om die verskillende funksies van die webwerf en die apps te demonstreer.
’n Spesialis wat mense met gestremdhede help en wat die stalletjie besoek het, het gesê: “Dit is indrukwekkend dat ’n godsdiensorganisasie soveel omgee om mense met spesiale behoeftes te help.” ’n Ander besoeker het gesê: “Dit is werklik sosiale insluiting!”
Verteenwoordigers van die Nasionale Organisasie vir die Blindes in Brasilië (ONCB) het Reatech vir 2022 ook bygewoon. Hulle het gedurende die geleentheid radio-uitsendings gedoen. Gedurende die eerste en laaste dag van die skou is onderhoude vir die uitsendings met broers by die stalletjie gehou. Die broers het verduidelik hoe Jehovah se Getuies dié wat blind is, nie goed kan sien nie en doof is, nie net in Brasilië nie, maar regoor die wêreld help. Gedurende een van die onderhoude het ’n ONCB-verteenwoordiger gesê dat jw.org se gebaretaal-inhoud van die beste is wat hy nog ooit gesien het.
Van eertydse tye tot in ons dag het Jehovah nog altyd liefde getoon aan dié met fisiese beperkings (Levitikus 19:14). Ons is daarvan oortuig dat dit hom bly maak wanneer hy sien hoe sy Getuies sy liefde navolg. Ons sien uit na die tyd wanneer “die oë van die blindes kan sien, en die ore van die dowes sal kan hoor”. – Jesaja 35:5.