Spring na inhoud

25 JUNIE 2020
BRASILIË

Ons broers in die Amasone word gehelp

Ons broers in die Amasone word gehelp

Die koronavirus-pandemie het baie ekonomiese probleme in Brasilië veroorsaak. Daarom het die Takkomitee in Brasilië 18 Noodlenigingskomitees (DRC’s) gevorm om die verkondigers te help wat dit nodig het. Die DRC’s help sowat 12 000 gemeentes regoor die land, insluitende ons broers wat diep in die afgesonderde Amasonerivier-streek woon. Tot nou toe het 131 families in die Amasone hulp gekry.

Die DRC in Manaus, die hoofstad van die staat Amazonas, het pakkies opgemaak met ’n maand se voorraad van nodige items. Die pakkies het kos ingesluit, soos boontjies, kassawemeel, rys en poeiermelk. Dit het ook items vir higiëne ingesluit, soos seep, toiletpapier, tandeborsels en tandepasta. Die broers het die pakkies na die nabygeleë hawe Manacapuru gestuur en dit toe per boot na verskillende afgesonderde gebiede, insluitende Membeca en Lago do Castanho, vervoer.

Suster Marinelma, wat in die Lago do Castanho-streek woon, het die volgende gesê nadat sy haar kosvoorraad gekry het: “Eers wil ek vir Jehovah dankie sê omdat hy vir ons sorg. Ons het baie hulp nodig gehad omdat ons nie geld gehad het om kos te koop nie. Ek wil ook dankie sê vir die broers vir hulle vrygewigheid en liefde. My sesjarige seuntjie het gesien hoe ek die kos wegpak, en toe gebruik ek die geleentheid om vir hom te verduidelik dat Jehovah die broers gebruik het om ons te help. Toe het my seuntjie gesê: ‘Ma, kan ons bid en vir Jehovah dankie sê?’”

Broer Jonas Monteiro, wat saam met sy gesin in die stad Caapiranga woon, het ’n brief vir die DRC gestuur. Dit sê gedeeltelik: “Baie dankie vir die hulp wat julle vir ons gegee het. Wat julle vir ons gedoen het, wys dat Jehovah vir ons lief is. Dit is beslis ’n groot voorreg om deel te wees van hierdie wêreldwye familie.”

Die broers op die DRC is ook deur hierdie noodlenigingswerk aangemoedig. Isaac Emannuel Ramalho de Oliveira, ’n ouerman wat op die DRC dien, het verduidelik: “Elke dag wat ek saam met die Noodlenigingskomitee werk, voel ek hoe my geloof sterker word. Ek is seker dat hierdie werk baie meer vir my sal doen as wat ek vir die broers kan doen.”

Dit versterk ons geloof om te sien hoe Jehovah vir sy aanbidders gedurende hierdie pandemie sorg, maak nie saak waar hulle is nie. – Psalm 94:14.