Spring na inhoud

Links: Die takkantoor in Brasilië wat buite São Paulo geleë is. Regs: Vrywilligers wat toegewys is om met die opknappingswerk by die takkantoor in Brasilië te help

6 MEI 2022
BRASILIË

Opknappingswerk by die takkantoor in Brasilië begin

Opknappingswerk by die takkantoor in Brasilië begin

’n Groot opknappingsprojek het by die takkantoor in Brasilië, wat sowat 140 kilometer wes van die stad São Paulo geleë is, begin. Die doel is om die Bethelfasiliteit op te gradeer en om boumateriaal en afwerkings te vervang. Om ’n bestaande Bethelfasiliteit op te knap het unieke uitdagings. Die werk moet so beplan en gedoen word dat dit nie die werk by Bethel onderbreek nie. Byvoorbeeld, Betheliete moet in tydelike akkommodasie bly terwyl daar aan hulle kamers gewerk word. Daar word geraam dat die werk binne vyf jaar voltooi sal word.

Die broers sal opknappingswerk aan ’n oppervlak van ongeveer 75 000 vierkante meter doen, wat al die kantore en 650 woonkamers insluit. Die opgraderings sal help om die takfasiliteit meer aanpasbaar en effektief te maak. Byvoorbeeld, die kantore sal afskortings hê wat vinnig geskuif kan word as dit nodig sou wees. Elke woonkamer sal ’n klein kombuis hê, en daar sal ekstra spasie wees om wasgoed te doen. Moderne, omgewingsvriendelike toestelle sal geïnstalleer word om die takkantoor se water- en energieverbruik te verminder.

Die broers en susters wat as vrywilligers aan die projek werk, sal in tydelike akkommodasie op die takkantoor se eiendom bly. Dit sluit ’n stoor in wat omskep is in 25 wooneenhede. Daar is ook 91 skeepshouers wat in tydelike wooneenhede omskep is op Bethel se plaas wat langs die takkantoor is.

Skeepshouers wat omskep is in tydelike akkommodasie vir vrywilligers

Broer Joel Grigor, ’n konstruksiekneg wat aan die projek werk, het gesê: “Ons het gesien hoe Jehovah se organisasie nie net die werk doen nie, maar ook sy mense oplei om dit te doen. Baie van die vrywilligers wat gekom het, het baie min of geen ondervinding in konstruksie gehad nie. Maar ná al die opleiding wat hulle gekry het, is hulle nou besig om ander op te lei.”

Ons is oortuig dat Jehovah sy volk ryklik sal seën terwyl hulle hulleself “gewillig aanbied” met hierdie asook ander teokratiese bouprojekte. – Psalm 110:3.