Spring na inhoud

Links: ’n Kaart wat die gebiede wys wat gedurende die kampanje van vier maande besoek is. Kleiner foto’s (van links na regs): Broers en susters wat Wapishana, Xavante en Hunsrik praat, neem deel aan die predikingswerk

8 AUGUSTUS 2024
BRASILIË

Predikingskampanje in Brasilië help om saadjies van Bybelwaarheid in 11 tale te saai

Predikingskampanje in Brasilië help om saadjies van Bybelwaarheid in 11 tale te saai

Vanaf 1 Maart tot 30 Junie 2024 het meer as 1 000 Getuies van Jehovah aan ’n uitgebreide predikingskampanje regoor Brasilië deelgeneem. Die kampanje is georganiseer om dieselfde tyd as die vrystelling van die publikasie Geniet die lewe vir ewig! plaas te vind. Die publikasie is in 11 tale wat in die land gepraat word, vrygestel. As gevolg hiervan het amper 300 mense ’n Bybelstudie aangevra.

Twee susters gesels met ’n man wat Hunsrik praat in Nova Petrópolis

Gedurende ’n gesprek in Campinápolis het ’n vrou wat Xavante praat, die verkondigers gevra: “Is julle die mense wat video’s in my taal maak? Ek soek al lank na julle. Nou het ek julle uiteindelik gekry!” Sy het verduidelik dat sy voorheen die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het, maar opgehou het omdat sy nie Portugees verstaan het nie. Maar toe die vrou ontdek dat ons Bybelgebaseerde publikasies en video’s nou in Xavante beskikbaar is, het sy probeer om die Getuies in die hande te kry. Sy het weer met haar Bybelstudie begin.

In Santa Maria de Jetibá het ’n suster by drie verskillende geleenthede ’n gesprek gehad met ’n vrou wat Pommers praat. Die derde keer wat ons suster haar besoek het, het die vrou gesê dat sy eintlik die dag voor hulle eerste gesprek tot God gebid het en hom gevra het om haar te leer hoe om hom op die regte manier te aanbid. Sy het gretig ’n Bybelstudie aanvaar.

In ’n dorpie in die suide van Brasilië het ons broers ’n vrou wat Kaingang praat, ontmoet. Sy het nog nooit voorheen van Jehovah se Getuies gehoor nie. Die broers het Psalm 83:18 vir die vrou gelees en verduidelik dat God se naam Jehovah is. Sy was diep geraak daardeur en het gesê dat niemand haar al ooit geleer het dat God ’n persoonlike naam het nie. Sy het dadelik ’n Bybelstudie aanvaar.

Geniet die lewe vir ewig! in Hunsrik, Kaingang, Kaiwá, Macushi, Nhengatu, Pommers, Sateré-Mawé, Talian, Ticuna, Wapishana en Xavante. Die kampanje is georganiseer om dieselfde tyd as hierdie vrystellings plaas te vind

Ons is saam met ons broers en susters in Brasilië bly dat so baie mense meer leer oor die “ewige goeie nuus” wat in God se Woord gevind word sodat hulle Jehovah ook kan verheerlik. – Openbaring 14:6, 7.