Spring na inhoud

4 FEBRUARIE 2020
BRASILIË

Skoonmaakwerk ná verwoestende oorstromings in Brasilië

Skoonmaakwerk ná verwoestende oorstromings in Brasilië

Vanaf 18 Januarie 2020 het dit baie gereën in die Brasiliaanse state Espírito Santo en Minas Gerais, en dit het verwoestende oorstromings veroorsaak. Vloedwaters het deur die strate gestroom en het huise beskadig, karre weggespoel en bome ontwortel. Volgens die owerheid moes duisende mense hulle huise verlaat en is meer as 60 mense al dood.

Espírito Santo

In die dorpe Iconha en Alfredo Chaves het die oorstromings nege huise van Jehovah se Getuies beskadig, waar 27 van ons broers en susters gebly het. Gelukkig is nie een van ons broers of susters beseer of dood nie.

Sowat 100 Getuies van die streek het aangebied om die broers en susters wat deur die oorstromings geraak is, te help. Onder toesig van die ouermanne het die broers kos, water en klere geskenk. Hulle het ook gehelp om skoon te maak en die modder te verwyder van die huise van ons broers en hulle bure wat nie Getuies is nie.

Minas Gerais

Nie een van ons broers of susters is dood of beseer nie. Maar vyf Koninkryksale is beskadig en omtrent 50 Getuie-gesinne moes hulle huise verlaat. As gevolg van die stygende vloedwaters was party broers vasgekeer op die tweede verdieping van hulle huise en moes hulle met bote gered word. Al die broers en susters wat hulle huise moes verlaat, het by ander Getuies gaan bly.

Noodlenigingskomitees is deur die takkantoor aangestel in Espírito Santo en Minas Gerais om die noodlenigingswerk te reël. Die Noodlenigingskomitees werk saam met die kringopsieners en die plaaslike ouermanne om in die fisiese en geestelike behoeftes van die verkondigers wat swaarkry, te voorsien.

Ons hou aan om vir ons broers wat deur die oorstromings geraak is, te bid. Ons sê dankie vir Jehovah dat hy vir hulle die krag, vertroosting en praktiese hulp gee deur middel van ons Christenbroers en -susters. – Psalm 28:7.