Spring na inhoud

10 DESEMBER 2019
BRASILIË

Spesiale kampanje bereik plattelandse gebiede in Brasilië

Spesiale kampanje bereik plattelandse gebiede in Brasilië

Duisende Getuies van Jehovah het spesiaal moeite gedoen om die Bybel se boodskap te deel met mense wat in die plattelandse gebiede van Brasilië woon. Hierdie spesiale predikingskampanje het op 1 September 2018 begin en het op 31 Desember 2019 geëindig. Meer as 80 000 verkondigers het deelgeneem, en meer as 16 000 Bybelstudies is begin.

Brasilië is die wêreld se vyfde grootste land. Daar word geskat dat sowat 28 miljoen mense in die plattelandse gebiede woon. En nog 22 miljoen mense woon in afgesonderde dorpe. Verkondigers wat deelgeneem het aan die spesiale kampanje, het al in meer as 1 600 gebiede gepreek. Party verkondigers moes meer as 2 000 kilometer reis om by mense uit te kom.

’n Verkondiger het by ’n huis aangekom waar ’n bejaarde man besig was om koffiebone wat hy geoes het, te verwerk. Die man het die verkondiger in sy huis ingenooi en sy vrou geroep. Hy het gesê: “Hy het gekom om met ons oor die Bybel te praat. Kom ons luister na hom!”

Die man en sy vrou het vrae begin vra. Hulle wou weet wat gebeur wanneer ’n mens sterf, hoekom God toelaat dat ons swaarkry, of dit reg is om tiendes te betaal, hoe om familieprobleme op te los en oor baie ander onderwerpe. Die man was baie beïndruk dat die verkondiger hom uit die Bybel geantwoord het. Hy het gesê dat hy daardie oggend gebid het en God gevra het of hy ooit antwoorde op sy baie vrae sou kry. Die gesin het hulle eerste vergadering daardie selfde aand bygewoon, en hulle hou aan om die Bybel te studeer.

In ’n ander gebied was verkondigers besig om van huis tot huis te preek, toe hulle geforseer is om by die kliniek in te gaan omdat dit so hard gereën het. Terwyl hulle daar was, het hulle ’n vrou en haar dogter gevra wat hulle graag vir God sou wou vra. Die dogter het gesê dat haar ouma gesterf het en dat sy haar graag weer wou sien. Die verkondigers het tekste oor die opstanding vir hulle gelees en het vir hulle die video Die opstanding – Binnekort ’n werklikheid gewys.

Later, toe die verkondigers die vrou by haar huis besoek het, het hulle ’n Bybelstudie met haar en haar gesin begin. Die vrou en haar dogters het ’n vergadering in ’n stad daar naby bygewoon en hulle hou aan om die Bybel oor die telefoon te studeer.

Die Bybel voorspel dat die Koninkryk van God onderdane “tot aan die eindes van die aarde” sal hê. Die spesiale kampanje in Brasilië wys dat Jehovah graag wil hê dat hierdie profesie waar moet word. – Psalm 72:8.