22 JUNIE 2022
BRASILIË
Vyf-en-sewentig jaar van wetlike erkenning in Brasilië
“Ons geloof, entoesiasme en vertroue in Jehovah het nooit verswak nie”
Op 23 Junie 1947 het Jehovah se Getuies die Sociedade Torre de Vigia de Bíblias e Tratados (Wagtoringgenootskap) in Brasilië geregistreer. Dit is die vernaamste regsentiteit wat die afgelope 75 jaar in Brasilië gebruik is. Ons broers het jare lank teenstand verduur om hierdie wetlike erkenning te verkry.
Op 13 Oktober 1945 het verkondigers in Brasilië mense gevra om ’n petisie wat die wetlike erkenning van Jehovah se Getuies ondersteun, te teken. Regoor die land het ongeveer 400 verkondigers 44 411 mense gekry om die petisie te teken. Hulle het die petisie na die presidensiële paleis gestuur, maar hulle het nie ’n antwoord teruggekry nie.
In 1946 het Brasilië ’n nuwe grondwet aangeneem. Hierdie grondwet het wette bevat wat toegelaat het dat die Wagtoringgenootskap geregistreer kon word. In daardie jaar het gemiddeld 442 verkondigers elke maand in die land gepreek.
Die geestelikes was nie gelukkig oor hierdie wetlike erkenning nie. Drie jaar later, op 3 November 1949, het die president van Brasilië as gevolg van druk van die geestelikes ’n bevel geteken om die bedrywighede van die Wagtoringgenootskap stop te sit en hulle gebou toe te maak. Die broers het die saak hof toe gevat. Die saak het tot 8 April 1957 aangehou, toe ’n nuwe president ’n besluit geneem het ten gunste van die Wagtoringgenootskap.
Terwyl die broers regsprobleme verduur het, het Jehovah aangehou om die predikingswerk te seën. Broer Djalma Mendes Souto, wat in 1941 gedoop is en een van die oorspronklike lede van die Wagtoringgenootskap in Brasilië was, het gesê: “Ons geloof, entoesiasme en vertroue in Jehovah het nooit verswak nie, en as gevolg daarvan het die hoeveelheid verkondigers aanhou groei. Daar was groot vreugde toe ons in 1947 vir die eerste keer meer as 1 000 verkondigers gehad het.”
Sedertdien het Jehovah se Getuies in Brasilië geweldige groei ondervind. In 2021 het Brasilië ’n hoogtepunt van 913 479 verkondigers bereik, en 2 184 856 het die Herdenking van Christus se dood bygewoon. Die “Geloof maak ons sterk!”-streekbyeenkoms vir 2021 is in 15 tale vertaal, wat 10 tale ingesluit het wat plaaslik gepraat word.
Dit moedig ons aan omdat Jehovah aanhou om die werk in Brasilië te seën. Ons broers se volharding ondanks wetlike uitdagings bewys dat Jehovah dié wat op hom hoop, red. – Jesaja 25:9.