Spring na inhoud

8 DESEMBER 2020
BULGARYE

Europese Hof van Menseregte gee uitspraak ten gunste van Jehovah se Getuies in Bulgarye

Europese Hof van Menseregte gee uitspraak ten gunste van Jehovah se Getuies in Bulgarye

Op 10 November 2020 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) beslis dat die Bulgaarse regering ons broers se reg op vryheid van godsdiens geskend het. Hierdie uitspraak beteken dat die regering moet toelaat dat die bouwerk aan ’n Koninkryksaal in die stad Varna, Bulgarye, moet voortgaan. Die broers kon nie die bouprojek voltooi nie omdat daar meer as 10 jaar lank teenstand was. Die EHMR het Bulgarye ook beveel om die broers altesaam 9 600 euro (omtrent R172 000) te betaal as vergoeding.

Die saak gaan oor die bou van ’n Koninkryksaal op ’n eiendom wat ons broers in Januarie 2006 gekoop het. Die munisipale owerhede in Varna het in Mei 2007 toestemming vir die bouprojek gegee, en ons broers het dadelik hiermee begin. Maar in Julie van daardie jaar het die burgemeester die bouprojek gestop en gesê dat die broers die bouregulasies oortree het. Daardie selfde maand het ’n bekende Bulgaarse nasionalistiese politieke party plakkate by die bouterrein opgesit en ’n groot optog teen die bouprojek gehou.

Volgens die EHMR se uitspraak het die munisipaliteit van Varna toe ’n openbare verklaring uitgereik waarin hulle Jehovah se Getuies afgekraak het en hulle “volle ondersteuning aan die optogte” gegee het. Die burgemeester het ook sy ondersteuning aan die optogte gegee in verklarings aan die media.

Die burgemeester en ander amptenare het duidelik gewys dat hulle gekant is teen Jehovah se Getuies. Maar hulle het gesê dat hulle die bouprojek stop omdat hulle nie saamstem oor soneringsregulasies nie en nie as gevolg van godsdiensdiskriminasie nie.

Ons broers het die saak na verskeie Bulgaarse howe, insluitende die Administratiewe Hooggeregshof, gevat, maar hulle was nog steeds nie toegelaat om die projek te voltooi nie. Gedurende ’n gedeelte van hierdie tydperk moes die plaaslike gemeente ’n plek huur om hulle vergaderinge te hou.

Die EHMR het tot die slotsom gekom dat daar geen verskoning is vir hoe die amptenare opgetree het nie. Die Hof se uitspraak was 6-1. Hulle het beslis dat die Varna-munisipaliteit die “reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens” geskend het wat gewaarborg word deur Artikel 9 en 11 van die Europese Konvensie oor Menseregte toe hulle gekeer het dat die Koninkryksaal gebou word.

Ons broers hoop dat die stadsamptenare nou die EHMR se uitspraak sal volg. Hulle hoop ook dat hulle toegelaat sal word om ’n plek van aanbidding te voltooi wat die gemeenskap sal bevoordeel en Jehovah se naam in die stad Varna sal verheerlik. Ons is dankbaar teenoor Jehovah vir sy getroue ondersteuning. – Psalm 54:4.