Spring na inhoud

BULGARYE

Oorsig van Bulgarye

Oorsig van Bulgarye

Jehovah se Getuies is al sedert 1888 bedrywig in Bulgarye. In 1938 het hulle ’n nasionale regsentiteit geregistreer, maar hulle het hierdie registrasie verloor toe die land in 1944 onder Kommunistiese beheer gekom het. Die Getuies is strawwe beperkings opgelê totdat hulle regsentiteit, Christelike Vereniging van Jehovah se Getuies, amptelik in 1991 geregistreer is. Maar Jehovah se Getuies en ander godsdiensminderhede het hulle wetlike erkenning in 1994 verloor ná ’n openbare smeerveldtog teen “nie-tradisionele” godsdienste en die aanneming van ’n beperkende godsdienswet. Gevolglik het die polisie Getuies in hegtenis geneem, hulle godsdiensvergaderinge ontwrig en beslag gelê op hulle lektuur. Bulgaarse howe het nie wetlike beskerming aan die Getuies voorsien nie.

Nadat hulle van alle beskikbare regsmiddele gebruik gemaak het, het die Getuies hulle tot die Europese Hof van Menseregte (EHMR) gewend. In 1998, 2001 en 2004 het die EHMR vriendelike skikkings tussen die Getuies en die Bulgaarse regering aanvaar. Ná hierdie skikkings, het die regering Jehovah se Getuies weer as ’n godsdiens geregistreer. Die regering het ook die Getuies se reg op godsdiensvryheid gehandhaaf, insluitende hulle reg op gewetensbeswaar teen militêre diensplig, hulle reg om alternatiewe burgerlike diens te doen en hulle reg om hulle geloofsoortuigings sonder inmenging uit te spreek.

Jehovah se Getuies in Bulgarye is dankbaar vir die mate van godsdiensvryheid wat hulle geniet en voer hulle godsdiensbedrywighede oor die algemeen sonder enige inmenging uit. Maar sommige plaaslike munisipaliteite beperk die Getuies se godsdiensbedrywighede deur plaaslike wette verkeerdelik op hulle openbare bediening toe te pas of deur te weier om soneringspermitte vir hulle Koninkryksale uit te reik. En sommige lede van die publiek het Jehovah se Getuies fisies aangeval en geteister. Hoewel wetstoepassingsbeamptes in ’n mate bystand verleen, beskerm hulle gewoonlik nie die slagoffers nie en hulle vervolg gewoonlik nie die aanvallers nie. Die Getuies hou aan om met Bulgaarse amptenare te vergader om hierdie kwessies op te los en ’n saak met betrekking tot ’n permit vir ’n Koninkryksaal is tans aanhangig by die EHMR.