14 JUNIE 2016
BULGARYE
Bulgaarse Kommissie tree op teen godsdiensdiskriminasie
Jehovah se Getuies in Bulgarye het ’n betekenisvolle oorwinning behaal wat vryheid van spraak handhaaf, maar wat individue en organisasies teen godsdiensdiskriminasie beskerm. Bulgarye se Kommissie vir Beskerming teen Diskriminasie het bevind dat die Bulgaarse kabeltelevisiekanaal SKAT TV en twee van die kanaal se joernaliste doelbewus valse inligting oor Jehovah se Getuies versprei het en geweld teen hulle aangehits het. Die Kommissie het tot die gevolgtrekking gekom dat SKAT TV se optrede “onverskoonbaar” is.
Uitsendings hits godsdienshaat en geweld aan
Bulgaarse televisiestasies saai van tyd tot tyd programme uit wat lasterlike uitlatings oor Jehovah se Getuies bevat. Veral verslaggewers van SKAT TV het die Getuies stelselmatig belaster en kykers laat glo dat die Getuies skuldig is aan verskriklike misdade. Hierdie programme is landwyd uitgesaai en ook op die Internet geplaas.
Die programme het ook geweld en haat teenoor die Getuies aangehits. In een uitsending in Mei 2011 het SKAT TV ’n gewelddadige aanval op Jehovah se Getuies en hulle Koninkryksaal (plek van aanbidding) in die stad Boergas, geregverdig. Terwyl die Getuies vergader het vir die jaarlikse herdenking van Jesus se dood, het ’n woedende skare by die saal ingebreek en ’n hele paar van dié wat daar was, erg geslaan. Vyf Getuies is hospitaal toe geneem weens hulle beserings. Die SKAT TV-program het soortgelyke aanvalle bevorder, en uitsendings wat daarop gevolg het, het selfs beweer dat die Getuies verdien om aangeval te word. *
Die Getuies het ná die uitsendings talle gewelddade verduur, en baie van hulle Koninkryksale is beskadig. In party streke het plaaslike munisipaliteite dorpswette uitgevaardig om die bedrywighede van die Getuies te beperk.
Kommissie tree op teen wetlike en etiese oortredings
In Februarie 2012 het Jehovah se Getuies ’n klag by die Kommissie ingedien in verband met ses SKAT TV-programme wat in 2010 en 2011 uitgesaai is. Die Getuies het aangevoer dat SKAT TV se taalgebruik baie partydig was en dat die wye verspreiding van hierdie uitsendings op teistering en haatspraak neerkom. Hulle het ook aangevoer dat daar teen hulle gediskrimineer is as gevolg van die uitsendings.
Op 25 Januarie 2016 het die Kommissie eenparig ten gunste van die Getuies beslis en bevind dat SKAT TV en twee van die kanaal se joernaliste die Getuies geteister het met valse en ongegronde aantygings. Die Kommissie het erken dat die ses programme op godsdiensdiskriminasie teen Jehovah se Getuies neergekom het en ’n duidelike minagting vir die standaarde van professionele verslaggewing getoon het.
Toe die boetes opgelê is, het die Kommissie gesê dat “alle lede van hierdie godsdiensgroep aan ongevraagde en onwettige gedrag onderwerp is, wat presies ooreenstem met die definisie van teistering”. Die Kommissie het verduidelik dat die reg op vrye meningsuiting nie onvoorwaardelik is nie, maar dat dit onderhewig is aan beperkings wat vyandigheid voorkom. Daarna het die Kommissie gesê dat “die optrede van die verweerders in hierdie saak, onverskoonbaar” is.
Die Kommissie het tot die gevolgtrekking gekom dat die valse uitlatings teen Jehovah se Getuies besonder ernstig is. Dit het ook beswaar gemaak teen die weiering van SKAT TV en die kanaal se joernaliste om verantwoordelikheid vir hulle optrede te aanvaar en te erken dat hulle ’n fout gemaak het. Om die erns van die oortreding te beklemtoon, het die Kommissie hulle ’n swaarder boete as gewoonlik opgelê.
Prysenswaardige reaksie herstel ’n onreg
Die Getuies prys die Kommissie vir die feit dat hulle ’n standpunt inneem teen lasterlike en partydige verslaggewing. En aangesien Jehovah se Getuies soortgelyke probleme met ander mediamaatskappye in Bulgarye ondervind, dien hierdie beslissing as ’n duidelike waarskuwing vir hulle om nie valse beskuldigings en haatspraak te herhaal nie.
“Niemand wil hê dat valse uitlatings oor hulle uitgesaai moet word nie, en ons is geen uitsondering nie”, sê Krassimir Welef, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Bulgarye. “Aangesien die Bulgaarse publiek die negatiewe propaganda gehoor het, is dit belangrik dat hulle die waarheid oor Jehovah se Getuies hoor, en ons is bly dat die Kommissie stappe gedoen het om die saak reg te stel.”
^ par. 5 Op 8 Julie 2015 het SKAT TV weer ’n video uitgesaai oor die betreurenswaardige aanval op die Getuies op 17 April 2011. Dit is deel van ’n poging om voort te gaan om Jehovah se Getuies as ’n stereotipe te klassifiseer en haat teen hulle aan te hits.