Spring na inhoud

’n Lektuurtrollie word gebruik om ’n Bybelboodskap in Sofia, Bulgarye, te verkondig

14 FEBRUARIE 2017
BULGARYE

Sal howe in Bulgarye godsdiensvryheid beskerm?

Sal howe in Bulgarye godsdiensvryheid beskerm?

Op 4 Junie 2016 het Nikolai Stojanof by ’n klein lektuurstaander op ’n openbare straat in Boergas gestaan. Hy was besig om godsdienspublikasies van Jehovah se Getuies gratis vir mense aan te bied. Teen omtrent 19:00 het die polisie daar aangekom en Nikolai daarvan aangekla dat hy ’n munisipale wet oortree en hom ’n boete van 50 leva (R360) gegee. Hy en vier ander Getuies in Boergas is gedurende Mei en Junie aangekla en beboet vir hulle vreedsame godsdiensbedrywighede.

Howe beslis dat stadsrade die reg op godsdiensvryheid geïgnoreer het

Nikolai en die vier ander Getuies het teen die kriminele wette en die boetes geappelleer. In Oktober en November 2016 is Nikolai en die vier ander Getuies in die streekhof in Boergas vrygespreek en is hulle boetes gekanselleer.

Intussen het Jehovah se Getuies ook die grondwetlikheid van die munisipale wet in Boergas betwis, wat uitgereik was met die doel om die Getuies se godsdiensbedrywighede te beperk. Op 12 Oktober 2016 het die Administratiewe Hof van Boergas bepaal dat hierdie wet ’n skending is van die godsdiensvryheid wat gewaarborg word deur Bulgarye se grondwet en sy internasionale ooreenkomste.

Die stadsraad van Boergas het geweet dat grondwetlike regte geskend word deur die beperkende voorwaardes van die Wet vir Beskerming van Openbare Orde. In 2013 het ’n nasionalistiese politieke party voorgestel dat veranderinge aan die wet gemaak word. Hulle het beweer dat party mense in die gemeenskap oor die Getuies se godsdiensbedrywighede gekla het. Die goewerneur van die streek het die wet hersien en gevind dat die veranderinge diskriminerend is en toe ’n bevel uitgereik wat verklaar het dat dit ongrondwetlik is. Maar die nuwe goewerneur van die streek het die bevel teruggetrek, en die stadsraad het die veranderinge goedgekeur. Die ombudsman het die stadsraad gewaarsku dat die veranderinge onwettig is, maar hierdie wette is nog steeds toegepas totdat die streekhof van Boergas dit onwettig verklaar het.

Daar was ook soortgelyke gevalle in Kjoestendil, waar die stadsraad opsetlik veranderinge aan ’n plaaslike wet gemaak het wat godsdiensvryheid beperk het. Die stadsraad het die polisie toe beveel om hierdie veranderinge streng toe te pas. Die Getuies het as gevolg van ses kriminele wette boetes van tot 800 leva (R6 000) gekry vir beweerde onwettige godsdiensbedrywighede. Die Administratiewe Hof in Kjoestendil het hierdie wette ongeldig verklaar en die boetes gekanselleer. Die hof het gesê: “Die beskuldigde word aanspreeklik gehou terwyl sy eintlik net haar reg op godsdiensvryheid uitgeoefen het wat deur die Grondwet en die LRA [Wet op Godsdiensbedrywighede] gewaarborg word.” Op 24 Junie 2016 het hierdie selfde hof die Getuies se aansoek toegestaan en verklaar dat die veranderinge aan die wet ongrondwetlik is. * Die stadsraad in Kjoestendil het die beslissing by die Hooggeregshof geappelleer.

Gemengde reaksies op die reg om godsdiens te beoefen

Oor die afgelope paar jaar het 44 munisipaliteite in Bulgarye veranderinge aan wette gemaak om die godsdiensbedrywighede van geregistreerde godsdiensorganisasies te beperk. Wanneer plaaslike owerhede hierdie wette streng toepas, kry die Getuies waarskuwings en boetes, en word hulle selfs gedreig en gewelddadig aangeval. Byvoorbeeld, op 26 Maart 2016 het Marin Tswetkof, ’n munisipale beampte van die stad Wratsa, twee Getuie-vroue gedreig en gesê dat hy sokkerboewe sou kry om hulle aan te rand. Hy het toe hulle godsdienspublikasies afgevat en party daarvan beskadig.

Maar op ander plekke het onpartydige beamptes en die howe in Bulgarye godsdiensvryheid beskerm. Op 2 Junie 2016 was ’n groep van Jehovah se Getuies besig met vrywillige werk by ’n lektuurtrollie in die hoofstad, Sofia. Drie beamptes het hulle genader en hulle gevra of hulle ’n permit het om hierdie werk te doen. Nadat die beamptes die saak ondersoek het, het hulle bevestig dat Bulgarye se grondwet mense die reg gee om aan hierdie vreedsame bedrywighede deel te neem. In Plowdiw, die tweede grootste stad in die land, het die stadsraad nie toegelaat dat ’n politieke groep die Wet op Openbare Orde en Veiligheid verander nie. Die verandering sou daartoe gelei het dat die godsdiens van Jehovah se Getuies verbied word.

Wat sal gebeur met die wette wat bevraagteken word?

Jehovah se Getuies in Bulgarye is besig om die veranderinge wat die 44 munisipaliteite aan plaaslike wette gemaak het, te bevraagteken. Die doel van hierdie wette is om die Getuies se grondwetlike reg te beperk om ander van hulle godsdiensoortuigings te vertel. Krassimir Welef, ’n woordvoerder van die nasionale kantoor van Jehovah se Getuies in Sofia, sê: “Jehovah se Getuies doen ’n gemeenskapsdiens deur te praat oor onderwerpe waaroor mense bekommerd is en vir hulle bevredigende antwoorde in die Bybel te wys. Baie mense hou van ons boodskap, maar in munisipaliteite waar wette verander is om ons werk te beperk, is dit vir ons moeilik om ons gratis publikasies te versprei. Ons kan nie eers vir ander van ons godsdiensoortuigings vertel nie. Wanneer dit moontlik is, verdedig ons ons kosbare godgegewe reg op vryheid van aanbidding.”

Jehovah se Getuies is dankbaar dat senior beamptes en howe in Bulgarye vryheid van aanbidding beskerm wat die gemeenskap bevoordeel. Ons sal moet sien of die owerhede ook die ander gevalle waar wette verander is om godsdiensbedrywighede in Bulgarye te beperk, sal regstel.

^ par. 7 Bulgarye het die Europese Konvensie oor Menseregte onderteken, wat ’n persoon se vryheid waarborg om sy godsdiens of opvattings te beoefen deur leringe, gebruike, aanbidding en vierings. Die Europese Hof van Menseregte en die Europese Kommissie vir Demokrasie deur die Wet (Venesiese Kommissie) hou vol dat hierdie waarborg Jehovah se Getuies beskerm wanneer hulle vreedsaam bymekaarkom vir aanbidding of vir hulle bure van hulle oortuigings vertel.