31 DESEMBER 2019
CHILI
Belangrike hofsaak in Hooggeregshof in Chili respekteer pasiënt se regte
Op 13 Desember 2019 het die Hooggeregshof in Chili ’n uitspraak deur ’n laerhof verwerp met drie stemme teen twee. Hierdeur het dit die regte van een van Jehovah se Getuies gerespekteer wat weier om ’n bloedoortapping te aanvaar op grond van haar geloofsoortuigings.
Die hofsaak het te doen met een van ons susters, Polonia Ríos. Die hospitaal het herhaaldelik geweier om vir haar ’n noodsaaklike operasie te gee omdat sy nie bloedoortappings aanvaar nie. Sy het uiteindelik ’n amptelike klag teen die publieke hospitaal gelê omdat hulle geweier het om haar te behandel. Op 6 Augustus 2019 het die San Miguel-appèlhof teen Polonia en ten gunste van die publieke hospitaal beslis.
Daarna het suster Ríos die hofsaak by die Hooggeregshof van Chili geappelleer, wat ten gunste van haar beslis het. Dit is die eerste keer dat die Hooggeregshof ’n uitspraak gee wat die regte van bevoegde volwasse pasiënte beskerm wat sekere mediese behandelings weier as gevolg van hulle geloofsoortuigings. Vir meer as 25 jaar het die Hof beslis dat as die dokters dink dat ’n pasiënt behandeling nodig het wat sy of haar lewe kan red, die pasiënt dit nie kan weier nie.
Die amptelike uitspraak van die Hof sê gedeeltelik dat Polonia Ríos “’n pasiënt is wat graag wil lewe en haar gesondheid wil geniet deur ’n operasie te kry waarvoor sy al drie jaar wag . . . Sy het goeie redes om [’n bloedoortapping te weier] en sy probeer nie keer dat die dokters haar behandel nie. Sy weier eerder bloedoortappings as gevolg van haar geloofsoortuigings en ons moet dit respekteer, want sy het die reg tot gewetensvryheid en die reg om met waardigheid behandel te word. Ons het selfs meer redes om haar besluit te respekteer, want verslae wys dat hierdie operasie suksesvol sonder ’n bloedoortapping gedoen kan word.”
Ons is saam met ons broers en susters in Chili bly oor hierdie opwindende regsoorwinning. – 1 Korintiërs 12:26.