Spring na inhoud

15 MEI 2015
CHILI

Getuies verleen noodleniging aan slagoffers van oorstromings in Chili

Getuies verleen noodleniging aan slagoffers van oorstromings in Chili

’n Koninkryksaal in Copiapó wat deur water en modder beskadig is.

SANTIAGO, Chili—Op 25 Maart 2015 het swaar reënval in die Atacama-streek van Noord-Chili modderstortings en skielike oorstromings veroorsaak—die ergste in die gebied in 80 jaar. Meer as 30 000 mense is deur hierdie ramp geraak. Byna 3 000 van hulle moes in noodskuilings gaan bly, en ten minste 25 is dood.

Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Chili het bevestig dat geen Getuies dood of ernstig beseer is nie. Maar sewe huise van Getuies is vernietig en tientalle meer is beskadig. Een Koninkryksaal, ’n plek van aanbidding, is heeltemal vernietig, en nog twee is deur die oorstromings beskadig.

Verwoeste eiendom in Diego de Almagro, ’n stad wat erg beskadig is deur die oorstromings.

In Copiapó, een van die stede wat die ergste deur die oorstromings geraak is, het Jehovah se Getuies ’n noodlenigingskomitee gevorm om inligting te versamel en die opruimingswerk te organiseer. ’n Verteenwoordiger van die takkantoor is ook gestuur om die Getuies in die rampgebied te ondersteun en hulle geestelik te versterk. Getuies uit die stede Antofagasta, Arica, Calama, Caldera, Iquique en La Serena het onmiddellik noodlenigingsvoorraad aan hulle medegelowiges gestuur wat slagoffers van die ramp was.

Getuies maak noodlenigingsvoorraad by ’n Koninkryksaal in die stad Alto Hospicio bymekaar voordat dit na rampgebiede gestuur word.

Jason Reed, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Chili, het gesê: “Ons het groot medelye met die slagoffers van hierdie tragedie, en ons noodlenigingskomitee is gereed om met ’n voortgesette opruimings- en herbouingswerk te help. Ons werk ook hard om vertroosting en aanmoediging te gee aan almal wat deur die oorstromings geraak is.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Chili: Jason Reed, tel. +56 2 2428 2600

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000