6 JUNIE 2024
COLOMBIA
Aandag gevestig op Bybelonderrigting by Internasionale Boekeskou in Colombia
Die Internasionale Boekeskou is vanaf 17 April tot 2 Mei 2024 in Bogotá, Colombia, gehou. Die organiseerders van die geleentheid het gesê dat meer as 600 000 besoekers uit 25 lande dit bygewoon het. Gedurende die skou het Jehovah se Getuies ’n stalletjie opgerig om mense te help om meer oor die Bybel se praktiese waarde en boodskap van hoop te leer.
’n Man het na ons stalletjie toe gekom en gesê dat Jehovah se Getuies sy gesin by hulle huis besoek het toe hy nog ’n seuntjie was. Die man het gesê dat hy nog steeds belangstel om meer oor God en die Bybel se boodskap te leer. Ons broer het met behulp van die Geniet die lewe vir ewig!-boek vir die man gewys hoe ons Bybelstudieprogram werk. Hy het ook vir die man gewys hoe om jw.org te gebruik om uit te vind waar ’n gemeentelike vergadering naby sy huis gehou word en om te vra om persoonlik besoek te word. ’n Paar dae later was die broer baie bly om te hoor dat die man JW Library op sy foon afgelaai het, ’n vergadering op Sondag bygewoon het en saam met ’n plaaslike broer begin studeer het.
Toe ’n ma en haar jong seun na ons stalletjie toe gekom het, het die seuntjie opgewonde na ’n video in die reeks Word Jehovah se vriend gekyk. Die seuntjie se ma het een van ons susters gevra waar sy nog van hierdie opvoedkundige video’s kan koop. Die suster het verduidelik dat hierdie video’s gratis op jw.org beskikbaar is. Sy het ook verduidelik dat daar ander video’s en artikels is wat op die Bybel gebaseer is. Dit kan jongmense help om goeie maniere te hê en om nader aan God te kom. Nadat die ma en haar seuntjie na nog ’n paar video’s gekyk het, het die ma gesê hoeveel sy die kwaliteit van die video’s sowel as die lesse daarin waardeer. Sy was bly toe die suster aangebied het om ons Bybelstudieprogram vir haar te wys. Reëlings is gemaak om die gesprek voort te sit.
Ons is bly saam met ons broers en susters in Colombia vir hierdie wonderlike geleentheid om ander te help om “op Jehovah se weg van lig [te] bly”. – Jesaja 2:5.