9 JUNIE 2023
COLOMBIA
Eerste byeenkoms in Guambiano en Emberá (Chamí)
Op Sondag 26 Maart 2023 het ’n spesiale veeltalige program in Cali, Colombia, plaasgevind. Vir die eerste keer is ’n Spaanse kringbyeenkomsprogram gelyktydig in die inheemse tale Guambiano en Emberá (Chamí) getolk. Meer as 1 600 mense het dit bygewoon. Dit het 48 Guambiano-sprekende en 78 Emberá (Chamí)-sprekende mense ingesluit.
In Colombia is daar op die oomblik meer as 21 000 mense wie se moedertaal Guambiano is en meer as 77 000 mense wie se moedertaal Emberá (Chamí) is. In die verlede het die Byeenkomssale in Colombia nie die nodige toerusting gehad om die program gelyktydig in verskillende tale te tolk nie. Daarom het lede van hierdie inheemse gemeenskappe Spaanse byeenkomsprogramme bygewoon alhoewel hulle nie Spaans baie goed verstaan het nie.
Toe gesinne van hierdie inheemse gemeenskappe van die byeenkoms hoor, het hulle onmiddellik begin spaar. Dit was die geval vir die agt lede van die Carrasco-gesin. Hulle bly baie ver van die Byeenkomssaal af. Om by die Byeenkomssaal uit te kom, moet hulle drie ure lank stap en daarna 12 ure lank met die bus ry. Maar die afstand en die geld wat hulle moes spandeer om daar uit te kom, het hulle nie afgesit nie. Hulle het maande voor die tyd begin voorberei deur tradisionele handwerk te maak en te verkoop sodat hulle genoeg geld kon hê om die reis te dek. Gedurende die byeenkoms is hulle 12-jarige seun, Henry, een van twee Emberá (Chamí)-sprekendes wat gedoop is. En twee Guambiano-sprekendes is ook gedoop.
Suster Adrianin Morales, ’n Guambiano-tolk by die byeenkoms, het gesê: “Dit was so wonderlik om ’n byeenkoms by te woon wat in my taal getolk was. Om te weet dat almal in die gehoor Jehovah se boodskap in hulle eie taal sou hoor, het my baie bly gemaak.”
’n Ander Guambiano-tolk, broer Diomedes Velasco, het gesê: “Toe ek eers gevra was om te tolk, was ek baie bang. Maar toe ek die wonderlike dinge sien wat Jehovah vir die inheemse mense doen, was ek nie meer bang nie. Dit was ’n voorreg om deel te neem aan hierdie toewysing van Jehovah.”
Dit is wonderlik om te sien hoe mense van alle tale sê: “Kom, laat ons opgaan na die berg van Jehovah.” – Jesaja 2:3.