Spring na inhoud

Konstruksievrywilligers buite die takkantoor in Colombia

29 SEPTEMBER 2023
COLOMBIA

Toere begin weer by die takkantoor in Colombia wat pas opgeknap is

Toere begin weer by die takkantoor in Colombia wat pas opgeknap is

’n Groot opknappingsprojek by die takkantoor in Colombia is onlangs voltooi. Die projek het in Februarie 2019 begin en in Maart 2023 geëindig. Meer as 200 broers en susters, insluitende vrywilligers van Australië, Kanada, Chili, die Dominikaanse Republiek, Engeland en die Verenigde State, het aan hierdie opknappingswerk deelgeneem.

’n Ma en seun besoek die takkantoor in Colombia wat so pas opgeknap is

Vanaf 1 Junie 2023 kon besoekers weer vir die eerste keer ’n toer neem by die takkantoor wat pas opgeknap is. Broer John Rodriguez, wat tydens die COVID-19-pandemie gedoop is, het nog nooit tevore die takkantoor besoek nie. Hy het gesê: “Die werk wat hier gedoen word, wys Jehovah se liefde en grootheid. Ek is so bly en dankbaar om aan hierdie pragtige organisasie te behoort.” ’n Ander broer het gesê: “Ek is regtig beïndruk deur die manier hoe die broers die nuutste tegnologie en hulpbronne gebruik het. Hierdie opknappingswerk is ’n bewys dat Jehovah se organisasie altyd beter word.”

Die takkantoor – wat 42 kilometer noordwes van Bogotá, Colombia, is – organiseer teokratiese aktiwiteite in Bolivia en Colombia. Die takkantoor druk publikasies vir Colombia, Ecuador, Peru en Venezuela. Die onlangse opknappingsprojek sal die groei in hierdie streke ondersteun. Altesaam is 350 kamers en kantore opgeknap en is 156 nuwe kantore gebou. Nuwe klaskamers en konferensiekamers is ook gebou. En die toerroete is uitgebrei.

Die ouditorium met 420 sitplekke wat so pas opgeknap is. Kleiner foto: Broers wat die ouditorium opknap

Broer Tait Boulais, die koördineerder van die Konstruksiekomitee, het gesê: “Ten spyte van die uitdagings as gevolg van COVID-19 is dit duidelik dat Jehovah die werk geseën het. Selfs al het ons minder werkers gehad as gevolg van COVID-19, was die werkers gewillig om dinge te doen wat hulle nog nooit voorheen gedoen het nie of waarvoor hulle min opleiding ontvang het. Soos baie van God se getroue knegte van die verlede, het ons gesien hoe Jehovah se gees hulle gehelp het om gou goed te word in hierdie ambagte.”

Ons is oortuig dat die takkantoor wat so pas opgeknap is, belangrike ondersteuning sal gee aan die broers en susters en die baie belangstellendes wat die waarheid in die Bybel leer in hierdie deel van die wêreld. – Handelinge 1:8.