Spring na inhoud

14 MEI 2024
CÔTE D’IVOIRE

Jehovah se Getuies deel Bybelwaarhede gedurende internasionale sokkertoernooi in Côte d’Ivoire

Jehovah se Getuies deel Bybelwaarhede gedurende internasionale sokkertoernooi in Côte d’Ivoire

Vanaf 13 Januarie tot 11 Februarie 2024 het atlete van regoor Afrika aan die 34ste Afrikanasiesbeker, ’n internasionale sokkertoernooi, deelgeneem. Die geleentheid is in Côte d’Ivoire gehou, en duisende mense uit 24 lande het dit bygewoon. Gedurende die geleentheid het Jehovah se Getuies aan ’n predikingskampanje deelgeneem om die Bybel se boodskap met dié wat dit bygewoon het, te deel. Meer as 120 lektuurtrollies is in vyf groot stede waar sokkerwedstryde gespeel is, opgestel.

In Abidjan het ’n jong man na een van ons lektuurtrollies toe gekom en belangstelling getoon in die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf. Die man het verduidelik dat ’n goeie vriend van hom onlangs oorlede is. Nadat ons broers vir hom die vertroostende teks in Johannes 5:28, 29 gelees het, was die man baie aangemoedig. Hy het ons broers toe genooi om hom by sy huis te besoek om die gesprek voort te sit.

By ’n ander geleentheid het die plaaslike polisiekommissaris in Anyama na een van ons lektuurtrollies toe gekom. Hy het vir die Getuies gesê dat hy dit geniet om ons Bybelpublikasies te lees, veral dié wat gaan oor die skepping en die oorsprong van die lewe. Alhoewel hy baie besig is, het hy sy foonnommer vir die broers gegee en hulle gevra om hom te kontak.

’n Middeljarige man het na ’n lektuurtrollie in Abidjan gekom en die broers vertel dat hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het toe hy jonk was, maar dat hy kontak met die gemeente verloor het. Oor die jare het hy gesien dat daar ’n groot verskil is tussen Jehovah se Getuies en ander godsdienste. Hy is veral beïndruk met die vrede en eenheid wat Jehovah se volk gedurende tye van politieke onrus geniet. Die man het vir ’n Bybelstudie gevra, en die broers studeer nou gereeld met hom.

Ons is bly dat ons broers en susters in Côte d’Ivoire hierdie wonderlike geleentheid gehad het om mense van baie nasies te help om “oor die wonderlike dinge van God” te hoor. – Handelinge 2:11.