2 MEI 2019
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO
Dodelike Ebola-virus versprei in Demokratiese Republiek van die Kongo
Demokratiese Republiek van die Kongo gaan gebuk onder burgerlike onrus en protesaksie. En sedert Augustus 2018 word al hoe meer mense siek van die Ebola-virus. In die streke van Noord-Kivu en Ituri is meer as 1 088 gevalle van Ebola aangemeld en 665 mense het gesterf. Ongelukkig is ons broers ook deur hierdie siekte geraak. Volgens die takkantoor in Kongo (Kinshasa) het 10 volwassenes en twee kinders onder Jehovah se Getuies as gevolg van hierdie siekte gesterf. ’n Ander broer het die siekte opgedoen, maar het herstel.
Die takkantoor in die Kongo (Kinshasa) het goedkeuring by die Koördineerderskomitee gekry om ’n spesiale video en toespraak voor te berei om die broers te help om die siekte te voorkom. In die video word praktiese voorstelle gegee soos om houers te hê waar mense hulle hande kan was. Dit word nou by al die gemeentes gedoen. Hierdie praktiese stappe het gehelp om die verspreiding van die siekte te verminder. Twee gesondheidsbeamptes het briewe aan die takkantoor geskryf om Jehovah se Getuies te prys en hulle te bedank vir hulle samewerking en die praktiese stappe wat hulle geneem het om die siekte te beheer. – Matteus 5:16.
In baie stede is ons broers onder kwarantyn geplaas en kon hulle vir weke lank nie hulle huise verlaat nie. Om te keer dat die siekte in hierdie moeilike tyd versprei het die takkantoor gevra dat die streekbyeenkoms van die gemeentes in 12 kringe uitgestel word. Om seker te maak dat die broers nog steeds hulle geestelike voedsel kry, het die takkantoor gereël dat hierdie gemeentes ’n video van die streekbyeenkomsprogram by hulle Koninkryksale kyk.
Ons bid vir ons broers en susters in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Die Bybel se hoop vir ’n toekoms wanneer daar nie meer siekte sal wees nie, gee vir ons baie moed. – Jesaja 33:24.