Spring na inhoud

24 JUNIE 2020
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO

Getuies in takkantoor se gebied van Kongo (Kinshasa) gaan deur pandemie, oorstromings en gewapende gevegte

Getuies in takkantoor se gebied van Kongo (Kinshasa) gaan deur pandemie, oorstromings en gewapende gevegte

Ons broers en susters in party dele van die Demokratiese Republiek van die Kongo en die Republiek van die Kongo kry swaar as gevolg van die koronavirus-pandemie en ook as gevolg van oorstromings en gewapende gevegte. Die takkantoor in die Kongo (Kinshasa), wat toesig hou oor die predikingswerk in hierdie twee lande, het gereël dat ons broers en susters materiële en geestelike hulp kry. Die takkantoor het nou 57 Noodlenigingskomitees (DRC’s) regdeur die takkantoor se gebied gevorm om ons broers te help. Tot nou toe het die noodlenigingspogings meer as 90 000 broers en susters van kos voorsien.

Op 16 en 17 April 2020 het dit swaar gereën wat oorstromings in die oostelike provinsies van die Demokratiese Republiek van die Kongo veroorsaak het. As gevolg hiervan moes 139 verkondigers hulle huise verlaat. Hulle bly in die huise van hulle mede-gelowiges. Die DRC’s in hierdie gebied probeer om tydelike en permanente behuising te kry vir dié wat hulle huise moes verlaat.

Die broers en susters was vrygewig en het donasies gemaak aan die noodlenigingswerk van die DRC’s. In een gebied het verkondigers 700 kilogram piesangs, 400 kilogram mielies en 220 kilogram kassawe en kassaweblare bymekaargemaak.

Die 60 verkondigers in die Some 26 Km-gemeente het ook 50 van ons broers en susters in hulle huise verwelkom. Hulle het gevlug uit dele wat erg deur die oorlog geraak is. Die verkondigers het die kos wat hulle gehad het, gedeel met hulle broers en susters wat gevlug het totdat ’n DRC vir hulle kos gebring het.

Een gesinshoof in Brazzaville, die hoofstad van die Republiek van die Kongo, vertel sy ondervinding nadat hulle gehelp is: “Die lewe kan in ’n oogwink verander. Ek en my vrou het gewerk en saam het ons net genoeg verdien om die pot aan die kook te hou. Toe COVID-19 getref het, het ons al ons inkomste verloor. Maar ons het nie ons vertroue in Jehovah verloor nie. Terwyl ons bespreek het wat ons gaan doen wanneer ons kos opraak, het Jehovah iets gedoen om ons te help.”

Suster Mbuyi Ester, ’n weduwee van die stad Kinshasa, het ook gesê: “My man het ’n maand gelede gesterf, en ek het regtig hulp nodig gehad. Ek het nie ’n inkomste gehad nie, en ek het drie kinders om na om te sien. My familie sou nooit so baie kos bymekaar kon maak vir ons om te eet vir soveel dae nie. Dankie, Jehovah!”

Ons bid dat Jehovah sal aanhou om vir ons broers en susters te sorg en dat hy die noodlenigingswerk sal seën. Ons sien uit na die tyd wanneer daar volop voedsel op die aarde beskikbaar sal wees en wanneer almal dit sal kan geniet. – Psalm 72:16.