Spring na inhoud

Hoe een van die nuwe takkantoorgeboue in Lubumbashi, Demokratiese Republiek van die Kongo, gaan lyk

21 JANUARIE 2022
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO

Nuwe Bethelfasiliteite word in Demokratiese Republiek van die Kongo gebou

Nuwe Bethelfasiliteite word in Demokratiese Republiek van die Kongo gebou

Daar is begin om nuwe Bethelfasiliteite te bou in Lubumbashi in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Dit sal as die hoof-takkantoor dien. Daar word verwag dat sowat 260 Betheliete teen Mei 2022 in die gebou sal intrek terwyl 131 Betheliete by die huidige takkantoor in Kinshasa sal bly. a Nog ’n woon- en kantoorgebou word naby die huidige takkantoor in Kinshasa gebou. Omtrent 48 Betheliete sal die een of ander tyd ná Januarie 2024 by hierdie nuwe gebou intrek. Albei hierdie nuwe eiendomme sal die toenemende aantal verkondigers en predikingswerk in Kongo ondersteun.

Die bouwerk aan die eerste gebou van drie nuwe kantoorgeboue vorder goed

Gedurende die 2021-diensjaar het ons broers meer as 250 000 Bybelstudies in die Demokratiese Republiek van die Kongo gehou. Meer as eenmiljoen mense het die Herdenking van Christus se dood bygewoon. Op die oomblik is daar 394 Betheliete by die takkantoor in Kinshasa.

Omdat dit nie prakties was om die fasiliteite in Kinshasa uit te brei nie, het die broers in ander stede gekyk om ekstra spasie te vind. Hulle het ’n geskikte eiendom in Lubumbashi gekry wat groot genoeg is vir ’n nuwe takfasiliteit en ook vir nog fasiliteite in die toekoms.

Links: Tot 300 Betheliete sal binnekort begin om in die nuwe woongeboue in Lubumbashi in te trek. Regs: Hoe die voltooide projek sal lyk

Die eiendom in Lubumbashi is omtrent 2 300 kilometer van Kinshasa af. Dit is 12 hektaar groot en het woonplekke, kantore, ’n pakhuis, ’n sentrum wat vir baie dinge gebruik kan word met ’n eetkamer en ontspanningsareas.

Daar is in November 2020 met die bouwerk begin, maar as gevolg van die COVID-19-pandemie was daar baie uitdagings met die projek.

Broer Robert Elongo, ’n lid van Kongo (Kinshasa) se Takkomitee, verduidelik: “Die grense was toe. Dit het beteken dat dit moeilik was om boumateriaal af te lewer, en dit het gemaak dat die eerste fase van die projek langer gevat het.”

Maar broer Elongo sê: “In net een jaar is 40 persent van die eerste fase van die projek voltooi.”

Jehovah se seën op hierdie bouprojek kan duidelik gesien word. Ons bid dat hierdie nuwe fasiliteite ’n goeie getuienis vir die gemeenskap sal wees en eer op Jehovah God se naam sal bring. – Matteus 24:47.

a Die Demokratiese Republiek van die Kongo (Kinshasa) se takkantoor hou toesig oor teokratiese bedrywighede in die Demokratiese Republiek van die Kongo en die Republiek van die Kongo.