Spring na inhoud

2 JANUARIE 2020
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO

Wydverspreide oorstromings tref Kongo

Wydverspreide oorstromings tref Kongo

Storms en aanhoudende oorstromings het gevaarlike toestande regoor die Demokratiese Republiek van die Kongo, in Sentraal-Afrika, veroorsaak. Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Kongo (Kinshasa) het gesê dat baie Getuies deur die oorstromings geraak is. Ongelukkig het daar, in die hoofstad Kinshasa, een van ons broers as gevolg van die oorstromings gesterf.

Die takkantoor in Kongo (Kinshasa) het die volgende berig:

  • In die suidwestelike provinsie van Kasai het sterk winde en swaar reën die huise van ses Getuie-gesinne vernietig.

  • ’n Koninkryksaal in die noordwestelike provinsie van Sud-Ubangi was heeltemal oorstroom. Die saal was deur drie gemeentes gebruik en het ’n totaal van 69 verkondigers. Die oorstromings het ook 22 gesinne in die gebied geraak. Die takkantoor het ’n spesiale pionier en nog ’n ouerman aangestel om in die behoeftes van die broers en susters te voorsien. Hulle bied materiële bystand en geestelike aanmoediging aan diegene wat deur die oorstromings geraak is in hierdie afgesonderde gebied.

  • In die provinsie Tshopo is die broers en susters wat op die walle van die Kongo-rivier woon, gedwing om hulle huise te verlaat. Ten minste een Koninkryksaal in die gebied is ook oorstroom.

  • Gemeentes in die hoofstad, Kinshasa, het laat weet dat ten minste 80 gesinne deur die oorstromings geraak is.

Omdat die oorstromings vuil en ongesonde toestande veroorsaak en die risiko so groot is vir baie mense om siek te word, het die takkantoor inligting aan die verkondigers voorsien om hulle gesondheid te beskerm.

Ten spyte van die moeilike omstandighede help die broers en susters mekaar met materiële behoeftes, soos kos en klere. Noodlenigingskomitees onder leiding van die takkantoor bied ook hulp aan.

Ons weet dat ons gebede en die materiële en geestelike hulp wat deur Jehovah se organisasie voorsien word, ‘almal wat treur, sal vertroos’ gedurende hierdie moeilike tye. – Jesaja 61:1, 2.