25 JULIE 2017
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO
Jehovah se Getuies help slagoffers van geweld in Kongo
KINSHASA, Kongo—Jehovah se Getuies gee noodlenigings-voorraad en geestelike ondersteuning vir die mense in hulle gemeentes wat geraak word deur die geweld wat heers in die Kasai-streek in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Etniese konflik, gewapende burgermagte en burgerlike onrus in die Kongo het veroorsaak dat daar ’n krisis ontstaan het waarin meer as 1,3 miljoen mense moes vlug. Dit sluit meer as 30 000 mense in wat van Kasai na die naburige Angola gevlug het. Baie van die vlugtelinge is wreed aangeval en moes mediese behandeling kry vir brand-, kapmes- en skietwonde toe hulle in Angola aangekom het. Volgens berigte is meer as 870 van die vlugtelinge en hulle kinders in Angola Getuies van Jehovah, en ten minste 10 van hulle is beseer. Ongelukkig word daar berig dat 22 Getuies van Jehovah vermoor is.
Robert Elongo, ’n woordvoerder van Jehovah se Getuies by die takkantoor in Kinshasa, sê: “Ons is hartseer dat daar so baie slagoffers is as gevolg van die geweld, veral omdat dit baie jong kinders insluit. Party mense is aangeval net omdat hulle naby ’n gebied was waar geweld skielik uitgebreek het. Ons is baie bekommerd oor die veiligheid van ons mede-aanbidders en het hulle aangespoor om versigtig te wees. Ons en ons broers by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Angola doen ons bes om die nodige fisiese, emosionele en veral geestelike hulp te gee.”
Jehovah se Getuies in Angola en die Kongo het noodlenigings-komitees georganiseer om die ontsaglike noodlenigings-werk wat aan die gang is, te reël. Meer as 31 ton voorraad wat geskenk is, is na die vlugtelinge vervoer. Dit sluit beddegoed, klere, kos, muskietnette en skoene in, sowel as 525 kilogram mediese voorraad. ’n Dokter wat een van Jehovah se Getuies is, het ook na die vlugteling-kamp gegaan. Hy het meer as 135 mense ondersoek wat dringende mediese behandeling nodig gehad het.
Verteenwoordigers van die takkantoor in Angola en die Kongo het die vlugtelinge besoek om hulle geestelik te ondersteun. Daar is ook spesiale vergaderinge met aanmoedigende Bybeltoesprake gehou spesifiek met die vlugtelinge se situasie in gedagte. Hoewel Angola se hooftaal Portugees is, is vergaderinge in Tshiluba, een van die vier hooftale van die Kongo, gereël, en dit help die vlugtelinge baie. ’n Voorbeeld hiervan kan gesien word in die foto aan die begin van die artikel.
Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies koördineer noodlenigings-pogings vanaf hulle wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, en hulle gebruik fondse wat aan die Getuies se wêreldwye predikingswerk geskenk is.
Mediaverteenwoordigers:
Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000
Angola: Todd Peckham, +244-923-166-760
Demokratiese Republiek van die Kongo: Robert Elongo, +243-81-555-1000
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000